Die Bulls het ná ʼn droewige seisoen uiteindelik vlamgevat en die Sharks Vrydagaand op Kingspark met 30-16 geklop in ʼn lekker wedstryd wat egter effens aan die losserige kant vir die fynproewer was.
Die uitslag beteken eintlik niks in die Superkonteks nie, behalwe dat die Sharks hulle kwarteind oor die naweek van 22/23 Julie beslis oorsee sal moet speel.
Albei spanne was bereid om te hardloop, en hierdie ingesteldheid moet op sigself punte kry. Nou is dit net ʼn geval dat daar meer foutvry gespeel moet word, soos die 35 hanteerfoute, waarvan die Sharks 21 gemaak het, duidelik onderstreep.
Die tuisspan se skrum was beter en albei spanne se lynstane maar so-so en slordig. Maar die Sharks se dissipline was deurgaans nie lekker nie, en ses strafskoppe kort ná rustyd het gemaak dat die Bulls kon ontsnap uit druksituasies en ook aanvalsgeleentheid gekry het.
Die omkeerbesit is deur die Bulls oorheers, en hulle lakwerk was ook beter met net 12 van hulle duikslae uit 112 wat mis was teenoor die Sharks se telling van 21 uit 105.
In die geheel was die Bulls net daardie tikkie skerper met sy baldraende voorspelers, RG Snyman en Jason Jenkins, voor in die koor. Stephan Lewies het hierdie rol in veral die tweede helfte vir die Sharks goed vervul met Thomas du Toit wat veral om die afbreekpunte goed gedryf en ondersteun het.
Warrick Gelant was vir die Bulls kookwater en het drie van die Bulls se vier drieë afgerond waar Jan Serfontein twee keer die laaste aangee gegee het.
Serfontein het, op aanval en verdediging, net eenvoudig aangegaan waar hy teen die Franse opgehou het. Hy was skitterend, en Duncan Matthews het op vleuel werk gesoek en balle gejaag of sy lewe daarvan afhang.
Vir die Sharks het die kleine losskakel Garth April twee keer vir Serfontein op volle vaart gestuit en in algemene spel gelyk na die man wat verlede jaar soveel belofte getoon het; en Curwin Bosch was op heelagter ʼn derduiwel met sy teenaanvalle en goeie reddingswerk wanneer dit nodig was.
Puntemakers –
Sharks (10) 17: Drieë: Thomas du Toit, Curwin Bosch. Doelskoppe: Bosch 2. Strafdoel; Bosch.
Bulls (17) 30: Drieë: Nic de Jager, Warrick Gelant 3. Doelskoppe: Tian Schoeman 2. Strafdoele: Schoeman 2.
Ek sien hulle wil nie my skrywe plaas nie omdat ek nie vir NOLLIS goedpraat nie, hy moet Rusland toe gaan kyk net hoeveel beter was ons net omdat die spelers gehoor het hy gaan nou net die Currybeker opvoeter.