Serfontein kry Bok as sentermaat teen die Blues

Jan Serfontein - skuif na binnesenter en kry Jesse Kriel aan sy buitekant as sentermaat (Foto: bulls.co.za)

Jan Serfontein – skuif na binnesenter en kry Jesse Kriel aan sy buitekant as sentermaat (Foto: bulls.co.za)

Die Bulls se Springboksenter Jan Serfontein vier sy 50ste Superwedstryd met ʼn nuwe sentermaat in Saterdag se wedstryd teen die Blues in die QBC-stadion in North Harbour.

Burger Odendaal kry ruskans en Jesse Kriel, wat die meeste van sy 17 toetse as senter gespeel het, is op buitesenter met Serfontein wat na sy voorkeurposisie op nommer 12 skuif.

In nog ʼn noemenswaardige verandering speel Lizo Gqoboko in die plek van Pierre Schoeman op loskop. Gqoboko het verlede seisoen en ook met sy beperkte  verskynings vanjaar getoon dat hy ʼn man is om in die skrums mee rekening te hou en in die los is hy kookwater.

Piet van Zyl begin weer as skrumskakel met Rudy Paige in die plek van Ivan van Zyl wat na die bank bevorder is.

Adriaan Strauss, wat verlede week sy eerste proesel rugby vanjaar na sy rugoperasie gekry het, draf as kaptein en haker uit en Nic de Jager vervang die geskorste Renaldo Botha as steelkantflank.

Die Bulls se wedstryd teen die Blues is die eerste die seisoen tussen spanne van Suid-Afrika en Nieu-Seeland. Die Bulls het nog net een keer, in 2013, in Nieu-Seeland teen die Blues gewen en tien keer verloor.

Hierdie rare oorwinning was ook die Bulls se laaste in hulle laaste 10 wedstryde in Nieu-Seeland.

Die Bulls se mees ervare speler in Superrugby wat die naweek in die wedstryd-23 is, is Strauss (134 wedstryde, die meeste deur ʼn Suid-Afrikaanse haker), Trevor Nyakane (73) Piet van Zyl (72), Lood de Jager (42) en Rudy Paige.

Die span (Superwedstryde tussen hakies) –

Warrick Gelant (7), Travis Ismaiel (20), Jesse Kriel (34(, Jan Serfontein (49< Jamba Ulengo (13), Handré Pollard (28), Piet van Zyl (72), Hanro Liebenberg (11), Nick de Jager (7), Ruan Steenkamp (3), Lood de Jager (42), Jason Jenkins (16), Trevor Nyakane (73), Adriaan Strauss (kapt.) (133), Lizo Gqoboko (11). Bank: Jaco Visagie (10), Pierre Schoeman (12), RG Snyman (15), Jannes Kirsten (16), Rudy Paige (36), Tian Schoeman 25, Burger Odendaal (21), John-Roy Jenkinson (0)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Handre, Jan en Jesse het goed gedoen in die laaste WB toernooi. Hopenlik bereik hulle die selfde spelpeil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.