Ses Bokke druk drieë in Europese topreekse

Ses Springbokke het in die jongste ronde van die reekse om die Europese Kampioene- en Uitdaagbeker vir hul klubs drieë gedruk.

In die wedstryd tussen die Engelse klubs Saracens en Northampton kon elke klub met ʼn Bokdrie spog nadat Vincent Koch (vaskopstut) vir Saracens en Cobus Reinach (skrumskakel) vir Northampton die doellyn oorgesteek het.

Saracens het die kragmeting met 62-14 gewen.

Willie le Roux (heelagter) het ʼn drie vir die Engelse klub Wasps in sy sege van 26-7 oor die Ierse provinsie Ulster gedruk; Bismarck du Plessis (haker) het een vir Montpellier in sy nederlaag van 14-23 teen die Ierse provinsie Leinster gedruk; en Duane Vermeulen het een van die Franse klub Toulon se twee drieë in sy nederlaag van 27-30 teen die Walliese streekspan Scarlets gedruk.

In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Lourens Adriaanse (vaskopstut) ʼn drie vir die Franse klub Pau teen sy Engelse eweknie Gloucester gedruk.

Sy span het met 34-24 gewen.

Terug by die Kampioenebeker het Nick Abendanon (regtervleuel) een van twee drieë vir die Franse klub Claremont gedruk, om die Walliese streekspan Ospreys (Llanelli) met 24-7 te troef.

Abendanon is in Bryanston gebore en het vir Engeland toetsrugby gespeel.

Die gewese Stormer en nou Engelse toetsspeler Don Armand (flank) het ʼn drie vir die Engelse klub Exeter teen die Skotse superspan Glasgow Warriors gedruk.

Die Skotte het met 21-18 gewen.

Rory Kockott (skrumskakel), ʼn gewese Superrugbyspeler vir die Sharks en die Lions, en later Franse toetsspeler, het sy klub Castres se enigste punte teen die Ierse provinsie Munster met ʼn strafdoel behaal.

Munster, wat deur die gewese Bok-afrigter Johann van Graan gebrei word, het die Franse met 48-3 oorrompel.

Die gebore Vrystater Dan Kotzé (plaasvervanger-vaskopstut van Castres), nóg ʼn Suid-Afrikaner wat Frankryk internasionaal verteenwoordig het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Europese Uitdaagbeker

In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Pat Howard (plaasvervanger-linkervleuel) se drie die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons gehelp om die Franse klub Bordeaux Bègles met 33-17 te verslaan.

Tian Schoeman (plaasvervanger-losskakel) het ʼn doelskop vir die verloorspan bygedra.

Howard is ʼn gewese SA o.20-speler wat die Stormers in Superrugby verteenwoordig het; en Schoeman het  Superrugby vir die Bulls gespeel.
Maks van Dyk (vaskopstut), ʼn gewese SA o.20-speler wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het ʼn drie vir Toulouse, Frankryk, in sy sege van 28-21 oor die Engesle klub Sale gedruk.

ʼn Drie deur die oud-Sharks-speler Johan Meyer het die Italiaanse klub Zebre in staat gestel om die voortou in die 44ste minuut van sy wedstryd teen die Franse klub Agen te neem, en uiteindelik met 38-30 te wen.

James Hall (skrumskakel), voorheen van SA o.20 en die Kings, het ʼn doelskop vir die Franse klub Oyonnax teen die Ierse provinsie Connacht behaal.

Connacht het die Franse met 50-14 verpletter.

Simon Kerrod (vaskopstut) se Engelse skuif van Jersey na Worcester het nie al te gelukkig afgeskop nie.

Hy is met ʼn geel kaart gestraf in sy nuwe klub se nederlaag van 7-33 teen die Franse klub Brive.

Kerrod het onder meer vir die SA Barbarians teen die Saracens (2013) en die OP Kings teen Wallis (2014) gespeel.

Kontinentale Skild

Die Duitse klub Heidelberg, met ʼn stuk of 11 Suid-Afrikaners in sy geledere, het seker gemaak dat hy die eindronde in die reeks om die Kontinentale Skild haal.

Hy het die Italiaanse kampioen, Calvisano, in ʼn taai stryd op laasgenoemde se tuisveld met 17-13 verslaan, nadat hy die eerste wedstryd in Heidelberg met 34-29 gewen het.

Raynor Parkinson (binnesenter) het met drie en Marcel Coetzee (buitesenter) met een strafdoel vir die wenspan geslaag.
Parkinson het op sy dag vir die Universiteit van Johannesburg uitgedraf, en Coetzee vir die Sharks se o.19-span.

Die eindstryd word eweneens op ʼn tuis-en-weggrondslag teen die Roemeense kampioen, Tamisoaro Saracens, beslis, nadat dié tuis en weg met die Georgiese kampioen klaargespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Beste Maroela Media

Jaco Reinach het al jare gelede uitgetree. Sy seun Cobus Reinach is egter die betrokke speler waarna die heeltyd verwys word as Jaco.

Dalene de Vente ·

Dagsê Koos

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra omverskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.