Ses nog sterk in wedloop Curriebeker toe

Mike Willemse - twee drieë. (Foto: WP Rugby)

Mike Willemse – twee drieë. (Foto: WP Rugby)

In dié stadium van die opstellende ronde lyk dit of daar ses redelike sterk aanspraakmakers op die drie vakatures in die Curriebekerreeks is.

Die onoorwonne Griekwas loop voor met 20 ligapunte na vier wedstryde, die Suidwestelike Distrikte (14) is derde en Grens (ook 14 (vierde).

Sesde, sewende en agste lê die Boland (11), die Griffons (10) en die Pumas (10) wat nie een buite rekening gelaat kan word nie.

Die Westelike Provinsie (tweede met 14 punte ná drie wedstryde) en die Goue Leeus (vyfde) se plekke in die glansreeks is gewaarborg, en `n mens kry die indruk dat die Cheetahs (negende), die Sharks (tiende), die OP Kings (13de) en die Blou Bulle (14de) hul sterre kan dank dat hul deelname aan die Curriebekerreeks vanselfsprekend is.

Sou die SA Rugbyunie (Saru) die Curriebekermodel aanstaande jaar wil herhaal, behoort hy te oorweeg om in die belang van SA rugby die gewaarborgde deelname van die franchisebonde af te skaf.

Die kleiner bonde wat nou alles in die stryd werp om die topnege te haal gaan voos gespeel wees teen die tyd dat die Curriebekerreeks aanbreek – en dan moet hulle teen die franchisebonde se terugkerende Superrugbyspelers meeding.

♦ `n Strafdoel deur die WP-heelagter, Grant Hermanus, in die laaste minuut van die wedstryd op Nuweland het verseker dat die Streepruie Saterdag die Goue Leeus 27-24 klop.

Die tuisspan was rustyd 17-3 voor, maar die Leeus het sterk teruggeveg om in die 74ste minuut 24-24 gelyk te trek.

Mike Willemse (haker) het twee drieë vir die WP gedruk en Sylvian Mahuza (heelagter) twee vir die Leeus.

Justin van Staden - 13 punte. (Foto: André Meintjes)

Justin van Staden – 13 punte. (Foto: André Meintjes)

♦ Die Pumas het die eerste span geword om Grens se Bulldogs in vanjaar se reeks te klop toe hy die wedstryd Saterdag in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen in snerpende koue en `n onplesierige westewind 28-3 gewen het.

Die wedstryd het slegs drie drieë – almal deur die Pumas – opgelewer.

Justin van Staden, die Pumas-losskakel, het met twee doelskoppe en drie strafdoele vir 13 van sy span se punte gesorg.

♦ `n Vurige Griekwasspan was rustyd Vrydag in die Bolandstadion in Wellington reeds 13-0 voor teen die Bolandse Kavaliers en het uiteindelik 30-14 gewen om sy onoorwonne rekord gestand te doen.

Die wenspan se losskakel Clinton Swart se agt punte (`n doelskop en twee strafdoele) in dié wedstryd vestig hom met 56 punte die voorste puntemaker dusver in die reeks.

♦ Die Curriebeker- Eerste Liga-kampioen, die Luiperds, het nog `n terugslag ervaar toe die SWD hom 26-21 (rustyd 13-11) op Outeniekwapark in George geklop het.

Hansie Graaff (losskakel) het 16 van die Arende se punte met twee doelskoppe en vier strafdoele behaal; waar Rhyno Smith (heelagter) 11 vir die Luiperds met `n doelskop en drie strafdoele ingeoes het.

George Whitehead - 14 punte. (Foto: Cheetahs Rugby)

George Whitehead – 14 punte. (Foto: Cheetahs Rugby)

♦ Die besoekende Griffons het die Valke Woensdag 49-26 in die Barnardstadion op Kemptonpark geklop (rustyd 27-14).

Warren Williams het drie drieë vir die Perstruie gedruk en George Whitehead (losskakel) het 14 van die Griffons se punte met vier doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

t In die Hage Geingobstadion in Windhoek het die OP Kings 31-18 teen die Welwitschias gewen nadat die besoekers rustyd 19-8 voor was.

Die puntemakers –

Westelike Provinsie 27 (17) – Drieë: Mike Willemse 2, Sibahle Maxwane, Khanyo Ngcukana. Doelskoppe: Grant Hermanus 2. Strafdoel: Herrmanus.

Xerox Golden Lions 24 (3) – Drieë: Sylvian Mahuza 2, Shaun Reynolds. Doelskoppe: Marnitz Boshoff, Reynolds 2. Strafdoel: Boshoff.

Grens 3 (3) – Strafdoel: Oliver Zono.

Pumas: 28 (7) – Drieë: Marcello Sampson, Tyler Fisher, Hennie Skorbinski. Strafdoele: Justin van Staden 3. Doelskoppe: Van Staden 2.

Boland Kavaliers 14 (0) – Drieë: Christopher Bosch, William van Wyk. Doelskoppe: Adriaan Carelse 2.

Griekwas 30 (13) – Drieë: Jason Fraser, AJ Coertzen, Alshaun Bock, Marius Fourie. Doelskoppe: Clinton Swart, Ntabeni Dukisa Strafdoel: Swart 2.

SWD Arende 26 (13) – Drieë: Carlo Radebe, Johan Steyn. Doelskoppe: Hansie Graaff 2. Strafdoele: Graaff (4).

Luiperds 21 (11) – Drieë: Wilmar Arnoldi, Adrian Vermeulen; Doelskoppe: Rhyno Smith; Strafdoele: Smith 3.

Griffons 49 (27) – Drieë: Selvyn Davids, Warren Williams 3, Duan Pretorius, De Wet Kruger, Tertius Maarman. Doelskoppe: George Whitehead 4. Strafdoel: George Whitehead 2.

Hino Valke 26 (14) – Drieë: Shane Kirkwood, Reg Muller, Ettienne Taljaard, Grant Jancke. Doelskoppe: Karlo Aspeling 2, Damian Engeldoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

EK wonder of spanne soos Grens en SWD dit sal maak in ‘n Curriebeker reeks. Ek het verwag die Luiperds en Pumas sal die vanselfsprekende keuses wees, maar die lyk vir my die Luiperds wat die afgelope 2 seisoene baie naby aan Curriebeker status gekom het, gaan sowaar die makliker geleentheid wat hul gebied is weggooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.