Ses rooi kaarte en `n gele in één wedstryd

rooi kaartSes geel kaarte in `n enkele wedstryd kom nie aldag voor nie, wat nog te sê ses rooies!

Laasgenoemde is presies wat in `n wedstryd in die Noorderbonde se Assupolreeks tussen die tweede spanne van Pretoria Polisie en Dragons van Pretoria-Noord voorgeval het.

Martin Vlok, die klubbestuurder van Dragons laat weet die spanne het mekaar uit die staanspoor kliphard die stryd aangesê.

“`n Senter van Polisie het in die 26ste minuut `n geel kaart vir ongeoorloofde spel gekry. Albei spanne het in daardie stadium skouspelagtige rugby gespeel, maar in die 30ste minuut het `n chaos losgebars.

“`n Onderonsie het ná `n beweerde laat duikslag tussen Dragons en Polisie se vleuels ontstaan.

“Handsakgevegte het tussen die spelers uitgebreek en die skeidregter het geen keuse gehad nie as om vyf spelers met rooi kaarte van die veld te stuur – twee van Dragons en drie van Polisie,” sê Vlok.

“Daar is hard met die spelers gepraat om hul dissipline op te skerp en hulle is gemaan dat vuilspel nie geduld sal word nie.”

Vlok sê die tweede helfte het beter rugby opgelewer en albei spanne het hul meer op die bal as op die teenstanders toegespits.

“Ongelukkig het Dragons `n derde speler met `n rooi kaart verloor, wat die getal drie elk gemaak het.”

Hy sê Stefan Albers het deurentyd sy fokus behou en `n merkwaardige vertoning gelewer.

Dragons het die oorwinning laat in die tweede helfte met `n verdoelde drie verseël en 36-27 gewen. Die rustydtelling was 22-22 gelykop.

♦ Vlok sê die wedstryd tussen die derde spanne het min hoogtepunte opgelewer en Polise het 23-20 gewen. Hy het rustyd 7- 6 voorgeloop.

“Dis deur swak hanteer- en skopwerk aan albei kante gekenmerk. Die skrums en lynstane het deurgans gelol en baie frustrasie vir die afrigters veroorsaak.”

Hy sê aan Dragons se kant het Leroi Goosen moedig in die lynstane probeer om skoon balle vir sy agterlyn te wen, maar hy het min ondersteuning van sy spanmaats ontvang. Dragons se bank het sake `n bietjie beter laat verloop, maar nie genoeg om die wa deur die drif te trek nie.

♦ In die harde o.21-wedstryd het Polisie gou die voortou geneem en Dragons moes diep delf om sy spelpeil te lig.

Polisie was rustyd 21-17 voor, maar nadat die Dragons se voorspelers die oorhand begin kry het en die agterlyn meer balbesit, het die skaal in hul guns geswaai en het dit op `n sege van 31-28 uitgeloop.

Rynard Goosen, die haker van Dragons, het `n barshou gespeel en was in die tweede helfte deurentyd aan die voorpunt.

♦ Dragons se sterk o.20-span was deurgaans in beheer van hul wedstryd, was rustyd 28-0 voor, en het 61-0 gewen.

Die flank Lloyd Tshabalala het oral opgeduik en vier drieë gedruk, waarvan hy twee self verdoel het om 24 punte aan te teken.

Vlok sê die voor- en agterspelers het mekaar goed aangevul en deurentyd hul spelpatroon gehandhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.