Wanneer die son nie skyn nie, reën dit.
Nee, sê die Nieu-Seelanders, wanneer dit nie reën nie, skyn die son.
Die Nieu-Seelandse afrigter Paul Feeney, wat Auckland voorheen afgerig asook die Blues in die Superreeks bygestaan het, gooi sy gewig vanjaar in by die Stormers in ʼn poging om die gaping tussen die Kapenaars en hul Nieu-Seelandse eweknieë te verklein.
Ná die Stormers se onlangse oefenkamp in Hermanus het Feeney gesê Suid-Afrikaanse spelers het dieselfde vaardighede as die Kiwi’s en die Nieu-Seelanders het nie ʼn groter X-faktor nie.
Volgens Feeney het die Stormers spelers wat geweldig atleties is, met die vermoë om af te trap. Maar alles kom neer op die akkurate uitvoering daarvan en dis ʼn kwessie van ʼn bietjie meer klem daarop lê en meer tyd daaraan bestee, is daar berig.
Nee, sê die Nieu-Seelanders, en op stuff.co.nz eintlik word die toewyding en professionalisme van die Suid-Afrikaanse spelers bevraagteken.
Dis dalk ʼn bietjie aspris, maar wat wel waar is, is dat die Nieu-Seelandse spelers tog meer toegewyd is.
Dis een van die probleme wat op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se tweedaagse beraad verlede jaar in Oktober onder die loep geneem is, naamlik dat SA spanne se fiksheid dalk onder verdenking is.
Kom ons kyk wat vanjaar by die Crusaders gebeur. Van hul All Blacks is tot aan die einde van die maand afgegee, maar die meeste van hulle het reeds by hul spanne ingeval.
Die Crusaders het ook die gebruiklike rusdae op Woensdae tydelik opgeskort en dit vervang met ʼn stoei- en bykomende sessie in die gimnasium.
Dink daarteenoor maar terug aan die ongelukkigheid ʼn paar jaar gelede in die Sharks-kamp wat tot die afdanking van Jake White gelei het.
White en die spelers het onder meer koppe gestamp oor hoe laat (of hoe vroeg ) die spelers moet begin oefen.
Alle rugbyspelers weet dit, wanneer jy begin moeg word, sluip die foute in.