Ses van verlede jaar se eindstryd nie in Lions-opdrafspan

ʼn Haas uit die hoed uit was dit gewis nie waarmee die Lions se afrigter Johan Ackermann Donderdag vorendag gekom het met die aanwysing van die span vir Saterdag se Superrugby-eindstryd teen die Crusaders op Ellispark nie.

Heel voorspelbaar is die beginspan vir die vyfde opeenvolgende keer, en die wedstryd-23-tal vir die vierde keer, onveranderd vir die grootste wedstryd wat Ellispark sedert die 1995-Wêreldbekereindstryd aanbied.

Die 62 000 toeskouers sal die grootste skare wees wat nóg na ʼn Superwedstryd gekyk het.

Van Saterdag se beginspan het nege verlede jaar in die eindstryd teen die Hurricanes in Wellington opgedraf. Die Lions het die wedstryd met 3-20 verloor.

Die spelers vir Saterdag wat verlede jaar ook in die beginspan was, is Malcolm Marx, Andries Ferreira, Franco Mostert, Jaco Kriel, Elton Jantjies, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Ruan Combrinck en Andries Coetzee.

Die ses wat nie vanjaar daar is nie, is die twee beseerde stutte Dylan Smith en Julian Redelinghuys, die flank Warwick Tecklenburg, die senter Rohan Janse van Rensburg, skrumskakel Faf de Klerk en verlede jaar se kaptein en agsteman Warren Whiteley.

Van die ses wat nié daar is nie, is Smith, Redelinghuys en Whiteley beseer; Tecklenburg het uitgetree; en De Klerk en Janse van Rensburg is op die bank.

Om die sestal te vervang het drie van verlede jaar se plaasvervangers, Jacques van Rooyen, Ross Cronjé en Ruan Ackermann, bevordering na Saterdag se beginspan gekry; en is drie manne wat glad nie deel van verlede jaar se wedstryd-23 was nie, die stut Ruan Dreyer, die flank Kwagga Smith en die senter Harold Vorster, ook ingesluit.

Howard Mnisi, wat beseer is, en Jaco van der Walt wat eers weer onlangs ná ʼn besering begin speel het, is nie deel van Saterdag se 23-tal nie.

Akker van der Merwe, Corné Fourie en Lourens Erasmus is weer op die bank saam met De Klerk en Janse van Rensburg en die nuwe manne wat hulle eerste proesel eindstryd-rugby op Supervlak kry, Johannes Jonker,  Cyle Brink en Sylvian Mahuza.

Lions –

Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Ruan Ackermann, Kwagga Smith, Jaco Kriel (kapt.), Franco Mostert, Andries Ferreira, Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Jacques van Rooyen. Bank: Akker van der Merwe, Corné Fourie, Johannes Jonker, Lourens Erasmus, Cyle Brink, Faf de Klerk, Rohan Janse van Rensburg, Sylvian Mahuza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Callie, het jy weer vir ons een van jou voorspellings?

Josua Keys ·

Cyle Brink op agtsteman ASSSSSSSSSSSSSSSBBBBB!!!!! Ruan Ackermann op die bank sal inpak maak in die tweede halfde, Cyle se spoed gaan nodig wees om die ouens op die voorvoet te kry en Kwagga en Jaco kan dan konsentreer op hul eie spel, maar, maak nie saak wie, wat, wanneer of waar gaan speel nie ek skree steeds GO Lions!!!!!!!! Manne hou jul geloof sterk en speel vir Jesus Christus Saterdag, ongeag die uitkoms, julle sal dan altyd as oorwinnaars uit die stryd tree want dit is nodig dat Suid Afrika kan besef dat dit die enigste oplossing vir Suid Afrika se probleme gaan wees en julle die geskiedenis boeke sal herskryf as die Rugby span wat vir Jesus gespeel het want julle is nie bang om dit op TV aan die wereld te verkondig nie, dankie daarvoor. LIONS4LIFE

Marita ·

Amen! Dit is presies so, Josua. Ongeag of die Leeus Saterdag wen of verloor was en is hul getuienis deurgaans opreg vir hul Skepper.
Stem heeltemal saam oor Brink. Sy krag, vaart en algemene spel, was al van verlede jaar af indrukwekkend. Komaan Leeus!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.