Sesnasies? Aikôna, nie nou al nie

Die gewese Springbokflank Schalk Burger het ’n klip in die bos gegooi met ’n voorstel dat Suid-Afrika ook in die Sesnasies-reeks moet speel.

Daar sal egter nog baie, baie water in die see moet loop voordat dit sal gebeur.

Op die oog af klink dit na ’n goeie idee en baie van ons het die afgelope paar jaar só keelvol vir Sanzaar (die besluitnemers van rugby in die Suidelike Halfrond) geword, dat die gloeilampie ook begin brand het.

Die Superreeks is besig om al hoe meer te stagneer, al hoe minder toeskouers woon wedstryde by, maar om spanne van Noord-Amerika en die Suidsee-Eilande te betrek, sal nie ’n wonderkuur wees nie.

Wie het werklik baat gevind by die toelating van die Jaguares en Sunwolves in Superrugby? Byna net die nasionale spanne van Argentinië en Japan en dit was ook nie aardskuddend nie.

Hoeveel toeskouers lok die Jaguares en Sunwolves? Hoeveel Japanners speel vir die Sunwolves?

Maar iets sal gedoen moet word, want as daar net 8 500 toeskouers in Christchurch vir die kwarteindwedstryd tussen die Crusaders en Sharks was, is daar mos groot fout.

Hoeveel meer toeskouers was daar in Sydney toe die Waratahs teen die Highlanders gespeel het? Was Ellispark vol toe die Lions die Jaguares gepak het?

Kom ons wees eerlik, wie wil nou op ’n yskoue wintersmiddag of -aand rugby gaan kyk, ver van die stadion af parkeer (en nog daarvoor betaal), peperduur kaartjies vir jou en jou gesin aanskaf en as jy iets te ete wil hê, kos van ’n swak gehalte moet verorber?

Ons het bederf geraak, want dis mos baie lekkerder om knus voor jou verwarmer in die voorhuis saam met jou gesin en vriende rugby op televisie te kyk nadat jy klaar gebraai het. Boonop kan jy al die ander internasionale sportgebeurtenisse voor en ná die rugby ook volg.

Terug by Burger se voorstel, wat uit ’n spelersoogpunt gedoen is.

Al hoe dít kan gebeur, is dat die Noordelike Halfrond in sy somer moet rugby speel, of dat Suid-Afrikaanse rugbybase die seisoen ook tot die somer aanskuif, want onthoudie Sesnasies word in Februarie beslis.

Sal die televisiebase, wat al die toutjies trek, daarmee tevrede wees?

Hoe sal Georgië, wat jare lank swoeg en sweet om ook in die Sesnasies te speel, gepaai kan word?

Wat van die plaaslike skolereekse en universiteite? Van September/Oktober af word daar vir die eindeksamens voorberei en Desember is vakansiemaand by die see. Wat van die somerhitte, wat van die donderstorms?

Só baie vrae, maar só min antwoorde vir rugby in die Suidelike Halfrond wat erg gewurg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet ·

Ja vlug Europa toe…want ons is nie instaat om enige wedstryde te wen waar ons nou is nie.

Neels ·

Pieter , ek glo nie jy kan die sesnasie reeks met superrugby vergelyk nie. Jy moet dit eerder met die rugbykampioenskappe vergelyk. Supper rugby is streek spanne . Die sesnasies en die rugbykampioenskappe is nasionalle spanne.

Frans C ·

Ja dit is waar vir alle deelnemende spanne,behalwe die Jaquares wat ‘n nasionale span is,omdat dit al Argentinia se 24 provinsies verteenwoordig en die Sunwolves wat ‘n internasionale span is.
Dit is duidelik dat met 373 spelers (2016) wat in Europa speel en met ‘n verdere uittog veral vanaf die Lions plaaslike streekspanne nie sterk genoeg gaan wees in die Super 15
kompetisie,want spelers verlaat die spanne gereeld weens die lok van ‘n sterker geldeenheid en beter vergoeding.

Dit is om die rede dat ons moet afstap van kernprovinsies waarom ‘n Super 15 span gebou word.Die streek moet eenvoudig vergroot word en onder SARU geplaas word
met afrigters wat om die afrigtingpos aansoek doen.Dus die Valke,Poemas,Leeus en Blou Bulle sal een streekspan vorm en kan elke unie spelers afvaardig om deel te neem aan proewe.

Daar kan dus gekyk word na die Supersport challenge indeling.Ek weet mense gaan nie van dit hou want provinsialisme bly steeds sy kop uitsteek.

Arie ·

Ek hou by super rugby, die jaguars en sunwolfs kan nie minder mense lok as ons nie, dief kwota storie maak ons rugby dood niks anders nie

Petrus ·

Kry ‘n Afrika beker toernooi vir streekspanne as dit moet. Super rugby is vervelig, want wie wil aanmekaar kyk hoe die Bulle teen die Stormers of die Sharks teen die Bulle speel? Ons het ‘n Curribeker reeks en wil nie die spanne gedurig in Superrugby teen mekaar sien speel nie. Die huidige 4 nasie is goed en kan dalk na ‘n senasie uitgebrei word, maar weereens is afstande en reis te veel.

humor ·

huh………… Afrikabeker. Ag man rugby is nie so belangrik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.