Sesnasies: dalk die waterskeiding vir Bokrugby

Vanjaar se Sesnasiesreeks is belangriker vir Springbokrugby as die Rugbykampioenskap.

Ja, dis baie groot woorde, maar die glans om jaarliks twee keer teen die All Blacks te speel (en te verloor) asook teen die Wallabies en die Argentynse Poemas, het begin verdof.

Dis soos daardie Marmite-, kaas-en-ham-toebroodjies in jou skoolkosblik. Dis was lekker aan die begin, maar dit het afgesaag geraak.

Maar die vertonings van Engeland, Ierland, Skotland, Wallis en Frankryk, en o ja, seker maar ook Italië in vanjaar se Sesnasiesreeks, gaan nuwe betekenis kry, veral met Rassie Erasmus wat van nou af die toutjies as Springbokafrigter gaan trek.

Die Springbokke begin vanjaar se tuisaanslag in Junie wanneer hulle in ʼn reeks van drie toetse teen Engeland te staan kom.

Dis terugbetaaldag vir die nederlae van 2016, toe die Bokke tussen die jare 2000 en 2006 nie een van sewe toetse teen Engeland kon wen nie, toe die Bokke in 1972 op Ellispark geskok is.

Daar is sprake van twee wegtoetse teen Wallis – een ʼn onsinnige toets (maar ʼn geldmaker) aan die begin van Junie in Amerika en dan aan die einde van die jaar in Cardiff.

Die Springbokke speel in November weer teen Engeland en pak na alle waarskynlikheid vir Frankryk (die vyfde keer binne twee jaar) en ook vir Skotland, die span wat wêreldwyd die meeste vordering getoon het.

Dis hoekom Erasmus-hulle, en die ondersteuners, Saterdag en Sondag se openingswedstryde van vanjaar se Sesnasies noukeurig sal volg.

Wallis kom teen Skotland in Cardiff te staan, gevolg deur Frankryk teen Ierland in Parys.

Sondag pak Italië vir Engeland in Rome … in ʼn dienooreenkomstige wedstryd as waarin Brendan Venter die Engelse verlede jaar met sy taktiek by die losskrums ore aangesit het.

Is daar swak plekke in die spanne; is daar leemtes; is daar nuwelinge wat jou wakker laat lê; gee die spanne van die Noordelike Halfdrond werklik die pas aan?

Het die nuwe Franse afrigter, Jaques Brunel, met ʼn 19-jarige losskakel, Matthieu Jalibert, raakgevat? Kan die nuwe Engelse agtsteman, Sam Simmonds (1.85 en 97 kg) sy man staan? Kan die Iere met CJ Stander, Conor Murray en Johnny Sexton die pas aangee? Hoe gaan Cornell du Preez in die nr-8-trui vir Skotland vaar?

Dis mos lipafleklekker!

Die naweek se bepalings –

Saterdag

16:15: Wallis teen Skotland (Cardiff).
18:45: Frankryk teen Ierland (Parys).

Sondag

16:00: Italië teen Engeland (Rome).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charles ·

Janee, volgens my opinie gee die spanne van die Noordelike Halfrond beslis die pas aan. Dit is ‘n meer vinnige, aanvallende en aanskoulike tipe rugby. Baie beter as die “stamp-en-stoot” krag rugby wat deur die All Blacks aan ons opgedis word. Ek gaan beslis nie een Ses-nasie wedstryd mis nie.

Frans C ·

Verstaan nie mooi die redenasies van All Black-stamp rugby nie, want van die 6-nasies word
afgerig deur afrigters met ‘n NZ verbintenis en Engeland word deur ‘n Australiër afgerig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.