Sesnasies: Dié keer betaal Skotte die duur prys

Enige rugbyspan se ware kleure kom na vore wanneer hy vanuit die speekwoordelike laaste loopgraaf veg.

Dit het Skotland Saterdagaand op Murrayfield in Edinburg opnuut besef toe hy die Sesnasies-toetswedstryd teen Wallis met 24-25 verloor het.

Die Skotte was met rustyd met 17-8 voor en hoewel Wallis in die tweede helfte tot hul reg gekom het, was die Skotte in die 53ste minuut nog stewig in die saal.

Maar toe dons die vaskopstut Zander Fagerson met sy kop eerste in ʼn losskrum in en tref die Walliese stut Wyn Jones met die skouer teen die kop.

Draai die horlosie terug na verlede week in Dublin toe die Ierse flank Peter O’Mahony hom ook daaraan skuldig gemaak het en ook ʼn rooikaart gekry het.

Geen simpatie, geen versagtende omstandighede nie, gaan stort maar as jy nie dissipline kan handhaaf nie.

Die Skotte moes in die laaste 27 minute met net 14 spelers voortstry en dit het die agterdeur vir Wallis (ʼn tweede keer binne ʼn week) oopgelaat om ʼn oorwinning uit die kake van ʼn nederlaag te gryp.

Die Skotte het weliswaar die regtervleuel, Graham Darcy, opgeoffer om hul pak van agt voorspelers te behou met die twee Suid-Afrikaners, Oli Kebble en WP Nel, wat opgestuur is as plaasvervangerstutte.

Die Skotte het bly veg en met passie gespeel, maar daar was ʼn leemte agterlangs, want daar was altyd een speler kort.

Die 20-jarige Walliese spogvleuel, Louis Rees-Zammit, het met ʼn skitterende solo-drie nadat hy die bal vorentoe geskop het en uit die lug gepluk het om te druk, die kombers onder die Skotte se voete uitgeruk.

Dit het ʼn mens laat dink dat die reeks teen die Bokke en Skotte verlede jaar in Junie/Julie spogrugby sou opgelewer het, was dit nie vir Covid-19 nie.

Punte:

Skotland 23 (15): Drieë: Darcy Graham, Stuart Hogg. Doelskoppe: Finn Russel (2). Strafdoele: Russell (3).

Wallis 24 (8): Drieë: Louis Rees-Zammitt (2), Liam Williams, Wyn Jones. Doelskop: Callum Sheedy. Strafdoel: Leigh Halfpenny.

 

* Op Twickenham in Londen het Engeland Italië die 25ste opeenvolgende keer geklop toe die Rose ʼn oorwinning van 41-18 behaal het.

Die Engelse het ses drieë gedruk en die spinnerakke van verlede naweek se nederlaag van 6-11 teen Ierland afgeskud.

Dit was Italië se 29ste agtereenvolgende nederlaag in die reeks sedert 2011, maar tog was daar ʼn hele paar sprankies hoop.

Punte:

Engeland 41 (20): Drieë: Jonny Hill, Anthony Watson (2), Johnny May, Tom Willis, Elliot Daly. Doelskoppe: Owen Farrell (4). Strafdoel: Farrell.

Italië 18 (11): Drieë:  Montanno Ioane, Tomasso Allan. Doelskop: Allan. Strafdoele: Paolo Garbisi (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Was ‘n baie goeie wedstryd ten spyte van die rooi kaart wat mens moet erken regverdig was.

a3a3 ·

Die gebruik van die rooikaart straf die span in plaas van die speler: wysig eerder as volg: oortreder kry rooikaart maar word vervang met speler op die bank. Daarna word die situasie hersien deur “tugkomitee” en word speler gestraf as volg: ernstige oortreding – mis twee wedstryde, minder ernstig- mis een wedstryd, ens. Huidiglik word die spel geteiken en nie die oortreder nie.
In die geval sou die Scotte die wedstryd gewen het!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.