Sesnasies: Dít is waaroor Eddie Jones breed glimlag

Dit is een van daardie dinge waaroor die Engelse rugbyafrigter Eddie Jones altyd gedroom het: om ʼn monsterpak te hê wat sy teenstanders kan oorheers en in die vaste fasette kan opfrommel.

En dis waar Jones nog ʼn lid van die ou skool is. Oorheers voor en die stryd is halfpad gewonne. Dis hoekom hy die Engelse verlede week teen Georgië, volgens hom die “lelikste en moeilikste” pak voorspelers, vir twee dae laat skrum en lynstane ingeoefen het.

Dís waar die grondslag steeds gelê word. Kyk maar wat het verlede Saterdag op Ellispark gebeur toe die Sharks in trurat in die Superrugbywedstryd teen die Lions was.

Jones, een van die beste afrigters van sy tyd, het destyds nie die luukse by die Brumbies, Wallabies en Japan gehad nie en dis hoekom hy só gedy het toe hy Jake White en die Springbokke in 2007 by die Wêreldbekertoernooi in Frankryk bygestaan het.

Dis hoekom hy altyd in Suid-Afrika wou afrig, maar sy rug op die Stormers gekeer het toe die Engelse die geldwortel na hom uitgehang het.

Maar waar ander afrigters voor hom die fout begaan het deur te veel klem op spierkrag te lê, het Jones dit reggekry om breinkrag ook te ontwikkel. Dis hoekom Engeland onder hom so suksesvol is. Wie kan met 24 oorwinnings in 25 wedstryde stry?

♦  Saterdag op Murrayfield in Edinburgh (18:45) pak Engeland die Skotte in die Sesnasiesreeks met ʼn monsterpak, wat as ʼn eenheid byna 950 kg weeg.

Die Skotte, wat ʼn veel ligter maar beweegliker pak het, sal die rigting vir die Bokke moet aandui  wanneer hulle in Junie in drie toetse teen die Engelse te staan kom. Dis feitlik seker dat die aangewese Bokafrigter, Rassie Erasmus, se voorkeure, net soos dié van Jones, ook op spierkrag val, maar dit kan nie net daarby bly nie.

Voorspelling: As die weer hou, behoort Engeland met 10 of meer punte te wen.

♦  En dit is hoekom Saterdag se kragmeting in Dublin (16:15) tussen Ierland en Wallis ook ʼn paar vrae sal beantwoord. Die Iere, onder die afrigter Joe Schmidt en Wallis, onder Warren Gatland, het die vermoë ontwikkel om ʼn fyn balans tussen brein- en spierkrag te handhaaf. Dis gedwonge, omdat die Iere en Walliesers nie die magdom fisieke spelers  het om vanuit te kies nie en eerder ander vaardighede moes ontwikkel.

Albei spanne voer die basiese vaardighede reg uit, albei spanne strek die bal wyd, maar die Iere is straks die kortkop-gunstelinge oor hul skakelpaar, Conor Murray  en Johnny Sexton.

Voorspelling: Die Iere kan met ses, of selfs minder punte wen.

♦  Die stryd om die houtlepel word vanaand (21:45) buite Parys beslis wanneer die Franse, wat verskeie spelers gepos het nadat hulle ná die toets teen Skotland drooggemaak het, teen Italië speel.

Voorspelling: Die Hane, ondanks ʼn verswakte span, kan met 15 punte wen, mits die spelers die oggend met die regte gesindheid uit die bed geklim het. As dit nié gebeur nie, kan die Hane se vere gepluk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.