Sesnasies: Eddie Jones, bly tog stil, asseblief

Eddie Jones (Foto: Twitter)

Eddie Jones, die Engelse rugbyspan se hoofafrigter, kan maar net nie sy smoel toehou nie en dis hoekom die Springbokke hulle kan klaarmaak vir ʼn onvleiende en smalende woorde-oorlog wanneer Engeland in Junie in drie toetse teen die Bokke in Suid-Afrika speel.

Jones was vandeesweek betreklik stil voor Saterdag se Sesnasies-toets teen Wallis op Twickenham.

Dalk omdat Wallis verlede Saterdag die Skotte met 34-7 in Cardiff oorrompel het en ook omdat die Walliese afrigter, Warren Gatland, reeds deur die meule is.

Maar teen Donderdag kon Jones homself nie meer inhou nie, want hy was immers vyf dae lank tjoepstil.

Hy het die 24-jarige Walliese losskakel, Rhys Patchell, wat nog net in ses toetse gespeel het, uitgesonder en gesê hy weet nie of hy die nodige vaardighede en ervaring het om die druk te hanteer nie. Hy het die Engelse woord “bottle” gebruik, wat dit ook al mag beteken.

Sjoe, dit komende van ʼn span wat George Ford, wat nog nie werklik op internasionale vlak oortuig het nie, in sy opdrafspan in die nr. 10-trui het.

Maar wanneer jy in 23 van jou 24 toetse aan die wenkant was en die huidige Sesnasies-kampioen is, kan jy maar seker kopspeletjies speel, of altans só glo Jones.

“Wanneer Alun Wyn Jones-hulle (die Walliese kaptein) Saterdagoggend aan die onbyttafel sit, sal hulle na die jongeling kyk en wonder of hy die druk sal kan hanteer,” het Jones oor Patchell gesê.

En toe blaker hy dit ook uit dat hy aan Wêreldrugby geskryf het om te kla oor die “onsportiewe” gedrag van Jones (Alun Wyn), wat in die pad van die Skotse losskakel, Finn Russel, gestaan het om hom te verhinder om die doelskop ná die senter Peter Horne se drie waar te neem terwyl die televisieskeidsregter nog na die beeldmateriaal gekyk het om te beslis of die drie wettig was.

Jinne, meneer Jones (Eddie), Wallis het met 34-7 gewen, hulle het die Skotte ore aangesit en hulle staan vierkant in jou pad. Dis seker die rede vir jou soveelste uitbarsting, om hulle te ontstel, om in die slaggat te trap.

Wees maar verseker, die vonke gaan spat, want nie Wallis, Ierland of Skotland het ooghare vir Engeland nie. Ook nie die All Blacks, Wallabies of Bokke nie en dis baie te wyte aan Jones en sy grootmond houding.

♦ Ierland speel vroeër Saterdagmiddag teen Italië en behoort redelik maklik te wen. Die Ierse span is vol selfvertroue, goed afgerig, het wedstrydwenners en kan net soos die All Blacks ʼn oorwinning uit die kake van ʼn nederlaag ruk soos verlede week teen die Franse.

♦ Sondag op Murrayfield moet die Skotte wys dat hul nederlaag teen Wallis ʼn tydelike spoedbult was. Die afrigter, Gregor Townsend, het die Skotte behoorlik die kop gewas en hulle kan baie beter.

Die Franse, onder die nuwe afrigter, Jacques Brunel, het tekens van oplewing getoon en as die weer saamspeel, kan dit smullekker wees.

Die naweek se bepalings:

Saterdag

16:15: Ierland t Italië (Dublin).
19:15: Engeland t Wallis (Londen)

Sondag

17:15: Skotland t Frankryk (Edinburgh).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

bloues ·

Pieter, ek hou van jou rubrieke, sommer baie.
Ek dink egter dat jy hier verkeerd gaan wees. Ek sien die Engelse weer as die ses nasie kampioen na n onoorwonne reeks. Eddie is van die beste afrigters indien nie die beste nie.
Ek kan verkeerd wees.
Kom ons kyk
Groete

Nakkie die Nar ·

Eddie Jones MAG grootmond wees.
Tot tyd en wyl niemand sy bek toe SPEEL nie, mag hy maar!
Sesnasies sal hy in die sak druk, sonner moeite. Sy GROOT oomblik sal die All Blacks November op Twickenham wees, die MA van toetse hierdie jaar.
Die Bokke? Junie? Kry die bier reg, en die kole, Engelse gaan hulle BRAAI!!!

Boerseun ·

Nationale sport in die multikutuur nasie in elk geval n klug. Nou sing ons van volk en vaderland of n queen maar hoeveel uitlanders of etniese groepe koester enige nationalisme. Vat die Fraanse se span wat lyk of hulle eerder die Ivoorkus se lied moet sing. Amper soos die engelse krietet span wat nkosi moet sing

Douw ·

Hou op kerm oor Eddie se opmerkings en konsentreer eerder op die blapsbokke se goeie of sal ek se slegte punte?

Eddie en sy bleekbene gaan die blapsbokke in Junie voor ontbyt opvreet.

Frans C ·

Die Engelse het wel Italië redelik maklik geklop maar was glad nie so oortuigend soos die telling
aandui nie.

Die Bokke met die regte afrigter en meriete spelers kan dalk net vir ‘n verrassing sorg en Eddie se mond toe kry.

Valerie ·

En wie is die steroid-oukies (SA) se afrigter nou weer en wat sê hy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.