Sesnasies: Eddie Jones se Engelse het voete van klei

Daar is ʼn ou-ou uitdrukking in rugby dat jy net so goed soos jou laaste wedstryd is.

Ja, dis seker ʼn groot cliché, maar die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, het dit binne ʼn maand uitgevind toe sy kaartehuis in mekaar getuimel het.

Die Rose was in Februarie nog die Sesnasieskampioen. Hulle was wêreldrugby se tweede beste span naas die All Blacks en Jones het links en regs snedige opmerkings oor sy teenstanders kwytgeraak.

Maar toe verloor Engeland teen Skotland, hulle kry slae teen Frankryk en Saterdag op Twickenham vryf die Iere hul neuse nog verder in die grond toe hulle die Sesnasieswedstryd met 24-15 gewen het.

Toe Wallis boonop Saterdag in die laaste wedstryd van vanjaar se Sesnasiesreeks  met 14-13 teen Frankryk wen, het hulle die tweede plek ingeneem en Engeland na derde plek afgedwing.

Die Iere is vanjaar se Sesnasieskampioen. Hulle het boonop die Grand Slam (oorwinnings oor die drie ander tuisunies) behaal en het verlede week reeds as die tweede beste span in wêreldrugby bo Engeland ingeskuif.

Jones se mond is behoorlik gesnoer. Sy arrogansie het Saterdag in die ligte sneeuvlokkies verdwyn, en hy sal baie vinnig moet leer om beskeie te wees, om verskonings te maak, om voortaan sy teenstanders te ag en om respek teenoor rugby te betoon.

Die leemtes in die Engelse spelpatroon is oopgevlek. Die span se gebreke is uitgewys – en wie staan alleen in die beskuldigdebank? Eddie Jones.

Sy mooiweersvriende is nou nêrens te sien nie en hy sal van vooraf moet wys wat in hom steek.

Die toer in Junie na Suid-Afrika lê nou soos ʼn berg voor hom. Hy sal die stukkies moet optel, sy speelpatroon moet aanpas, en nuwe spelers moet kies en ontwikkel.

♦  En Ierland?

Hulle het die titel verdien. Ierland het immers die All Blacks, Springbokke, Wallabies, Engeland, Frankryk, Wallis en Skotland sedert 2016 geklop.

Hulle speel vir mekaar, begaan min foute, hou hul voete op die grond – en die belangrikste van alles, hulle bly beskeie en glo aan die uitdrukking dat jy net so goed as jou laaste wedstryd is.

♦  In Saterdag se ander Sesnasieswedstryd het Skotland met 29-27 teen Italië gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Jy weet Pieter, sulke vermakerige bitterbek kommentaar doen die rugby en die spelers van gister se wedstryd ‘n oneer aan. Wat dit van jouself as kommentator en skrywer sê is ‘n ope vraag.
Jy kan gerus gaan kers opsteek by beide die Ierse enbdie Engelse rugby skrywers en kommentators (Waarvanterloops ‘n goeie klomp uitgetrede top spelers is).
‘n Kundige ontleding van die spel met die goeie punte, die geweldige toewyding en ook die leemtes wat in die Engelse span deur die Iers na vore gebring is.
Dan kan jy dalk ook dievreaksie van jou gewraakte Eddie Jones lees enbsien dat hy geen verskonings maak nie, of mooi broodjies probeer bak nie maar die Iere soos ‘n sportman betaam gelukwens met hulle welverdiende oorwinning

Frans C ·

Die Engelse rugby is mi op dieselfde pad as hul sokkerspanne.Engelse sokkerklubs vaar goed maar wemel van die ingevoerde spelers.Feit is dat daar in Engeland gekla word oor die gehalte van hul amateurklubs.

Suid Afrikaanse spanne sukkel en Saterdag teen die Sunwolves was daar soveel internasionale spelers in die Sunwolvesspan dat dit kwalik as ‘n Japanese span beskryf kan word.Ek hoop nie dat die voorbeeld ook in Suid Afrika inslag vind.

Anoniem ·

Eddie Jones, Jy het groter as die ‘spel’ rugby geword ! Kry net weer vinnig gou Jou voete dat dit grond VOEL !!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.