Sesnasies: Eddie Jones trap nou ook op Wallis se tone

Eddie Jones. Nou is dit Wallis se beurt (Foto theguardian.com)

Eddie Jones. Nou is dit Wallis se beurt (Foto theguardian.com)

Verlede jaar was dit Ierland, Australië en die Bokke, en nou het  die Engelse afrigter, Eddie Jones, ook onder die vel van Wallis ingekruip deur hulle rooi te laat sien voor Saterdag se Sesnasiesrugbytoets in Cardiff.

Jones is ʼn meester op dié gebied – dis hoe hy met ander spanne se koppe smokkel, dis hoe hy hulle aandag probeer aftrek, en dit meestal regkry.

Soms wonder ek of dit nie maar sy manier is om die weerlig af te lei nie.

Maar hoe nader Engeland aan die All Blacks se rekordgetal van 18 onoorwonne toetse kruip, hoe meer sal hy sy span opsweep.

Engeland staan nou op 15 agtereenvolgende oorwinnings en Jones, wat in 14 van dié toetse in beheer was,  sal uit sy pad gaan om eers die sielkundige oorlog te wen en dan die slag op veld te slaan.

Hy het Donderdag die eerste skote laat klap, toe hy presies 48 uur voor die toets (dit was die afsnypunt)  laat weet het dat die dak van die Principality-stadion oop moet wees.

Wallis se afrigter, Robert Howley, wou dit toe gehad het, maar Jones het dit geveto.

En toe trek Jones volgens bbcsport.com verder los: “Wanneer julle Vrydag die Severn-rivier oorsteek, kan ons niks beheer nie. Die enigste ding wat ons kan beheer, is sielkundig en hoe ons speel.

“Jy moet enigiets verwag. Tensy jy die nodige stappe doen, sal jy deur die nag wakker gebel word. Dié dinge gebeur. Jy is op pad veld toe en die verkeersbeampte ry stadiger as die ander verkeer om seker te maak dat jy laat is.

“Wanneer jy by die veld uitkom, is daar iets verkeerd in die kleedkamer – die ligte is af of die verwarmer is afgeskakel. Jy kan nie dit beheer nie, want tradisioneel vertel hulle jou een ding en dan gebeur iets anders. Dit gebeur gereeld in Suid-Afrika en dit gebeur gereeld in Wallis.”

Kan Wallis Engeland klop, veral nadat  die Engelse verlede week teen Frankryk gesukkel en Wallis in die tweede helfte teen Italië gekook het?

My geld is op Engeland, maar ai, sal dit nie lekker wees as Jones se mond gesnoer kan word nie.

♦  In Rome sal Ierland, wat steeds sonder die beseerde Jonny Sexton is, sake wil regstel teen Italië nadat die Iere verlede week deur Skotland geskok is.

Die Iere sal weer die naweek aan die wenkant kom. Hulle was maar net stadig uit die blokke, en hulle het die Skotte straks onderskat.

Hulle durf nie weer in die reeks glip nie.

♦  In Parys moet Skotland Sondag teen Frankryk wys dat die oplewing in Skotse rugby  nie net ‘n gelukskoot is nie.

Die Skotte het laas in 1999 in Parys gewen, toe hulle ook die Sesnasies-titel gewen het.

Die Skotte het Ierland verlede  week geklop, hulle  het die eerste keer in jare spelbrekers soos Finn Russell en Stuart Hogg. Hulle skrum goed, die Gray-broers oorheers in die lynstane en hul verdediging sal selfs vir Jacques Nienaber en Brendan Venter oortuig.

Maar ʼn sege in Parys? Aikôna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.