Sesnasies: Engeland poer-poer, Ierland kook

Die ou-ou uitdrukking in rugby dat die kenmerke van ʼn goeie span  is wanneer hy die dag sleg speel, maar steeds aan die wenkant bly, was Saterdagaand op Twickenham in Londen weer waar.

Engeland het Wallis met 12-6 in die Sesnasiesreeks geklop.

Dit was slordig, daar is baie doelloos geskop en vanweë die nat veld het die hantering gelol, maar steeds het die Engelse net genoeg gedoen om ná twee rondes saam met Ierland die enigste onoorwonne spanne in die reeks te bly.

Engeland was rustyd met 12-3 voor ná twee drieë deur die vleuel Johnny May, maar die Rose sal hul spelpeil moet lig as hulle die wêreld se tweede beste span wil bly.

Dalk het Engeland nie soveel diepte soos wat almal dink nie, dalk is Wallis op ʼn opwaartse kurwe, en dalk het al die vooraf praatjies sy tol geëis, want selfs vir die brombeer Eddie Jones was dit nie ʼn vertoning vir die rekordboeke nie.

Puntemakers –

Engeland (12) 12: Drieë: Johnny May 2. Doelskoppe: Owen Farrell 2.

Wallis (3) 6: Strafdoele: Rhys Patchell, Gareth Anscombe.

♦  Die Bokke kan maar bly wees dat hulle Ierland vanjaar vryspring, want soos die Iere Saterdag in Dublin teen Italië gespeel het, sou daar slae op die Bokke gewag het.

Nadat Ierland verlede week teen Frankryk met 15-13 deurgeskraap het hoewel hulle ʼn oormaat besit en gebiedsvoordeel geniet het, het hulle hierdie keer hul diepte, ondernemingsgees en balvaardighede teen die Azzurri  uitgestal.

Hulle het Italië met 59-16 geklop, agt drieë gedruk en was rustyd reeds met 28-0 voor. Die kraan was reeds toegedraai toe hulle met 42-0 voor was.

Wanneer weet jy ook dat ʼn span op al sy suiers gevuur het?  Dis wanneer daar drie of vier spelers as Speler van die Wedstryd aangewys kon word.  Op die ou einde was dit die skrumskakel Conor Murray, maar dit kon net sowel Keith Earls of Bundee Ali ook gewees het.

Maar voordat die lofsange opdroog, was daar ook brandpunte, soos die ernstige beserings van die stut Taidg Furlong en die senter Robbie Henshaw.

Italië? Hulle is nie meer die slaansakke en die hierjy-span van die afgelope paar dekades nie, maar ongelukkig beland hulle in die Sesnasies in dieselfde drukkoker as spanne wat beter as hulle is.

Puntemakers –
Ierland  (28 ) 56:
Drieë: Robbie Henshaw 2, Conor Murray, Bundee Aki, Keith Earls, Rory Beste Jacob Stockdale 2. Doelskoppe:  Johnny Sexton 5, Joey Carberry 3.
Italië: (0) 19: Drieë: Tommaso Allan, Edoardo Gori, Matteo Minozzi. Doelskoppe:  Allan 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.