Sesnasies: Flambojante Hane kraai in Parys

Engeland se Joe Marchant (middel) systap Gael Fickou van Frankryk (regs) tydens die Sesnasiesreeks (19 Maart 2022) (Foto: Franck Fife/AFP)

Frankryk se rugbyspan het laat Saterdagaand in Parys nie net die Sesnasiesreeks met ʼn oorwinning van 25-13 oor Engeland beklink nie, maar die Nieu-Seelandse All Blacks ook uit hul tweede posisie op Wêreldrugby se puntelys gestamp.

Dit is die eerste keer in 12 jaar dat die Hane ʼn Grand Slam (onoorwonne) kon afsluit en ook die eerste keer sedert 2007 dat die Franse as die tweede beste span op die wêreldranglys beskou word.

Die Hane se drie drieë is deur die senter Gael Fickou, die flank Francois Cros en die kaptein en skrumskakel, Antoine Dupont, gedruk. Die heelagter Melvyn Jaminet het met twee doelskoppe geslaag en ook twee strafdoele oorgeklits.

Engeland se punte is deur die vleuel Freddie Steward aangeteken wat die Rose se enigste drie gedruk het, met die losskakel Marcus Smith wat met die doelskop een strafdoel geslaag het.

Vir 15 jaar was dit ongehoord dat die Franse bo die All Blacks sou inskuif, vir jare lank is daar gespot dat die Hane se voorspelbaarheid juis hul onvoorspelbaarheid is.

Maar onder die afrigter en oud-Franse skrumskakel, Fabian Galthie, het alles verander. Dissipline word nou voorop gestel. Hulle het ʼn stewige pak en hul flair is beslis nie in die kleedkamer agtergelaat nie.

Geoordeel aan spelpeil oor die afgelope twee jaar, is daar nie meer ʼn kloof tussen die Franse en die All Blacks en Springbokke nie.

Die Springbokke bly voor op die wêreldranglys, maar kom ons wees eerlik, met net 18 maande oor voor aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk, het die Hane as groot gunsteling na vore getree.

* Ierland het in Dublin ʼn oorwinning van 26-5 oor Skotland behaal om tweede in vanjaar se Sesnasies te eindig. Net soos Frankryk beur die Iere op pad boontoe.

Vir Skotland sal dissiplinêre probleme in spanverband uitgestryk moet word, veral nadat ses spelers, insluitende die kaptein Stuart Hogg, Finn Russell, Ali Price, Darcy Graham, Sam Tuiplotu en Sam Johnson verlede week in Rome spanprotokol verbreek het deur in ʼn kroeg te gaan kuier.

Ja, ʼn mens hoef nie spelers soos kinders te behandel nie, maar as hulle as hoogs-betaalde beroepspelers nie hul eie spanreëls kan nakom nie, hoe kan daar van hulle verwag word om gehoor te gee aan spanopdragte op die veld?

* In Saterdag se ander kragmeting het Italië ʼn verloordroogte van 36 opeenvolgende nederlae in die Sesnasies gebreek toe hy Wallis in Cardiff met 22-21 geklop het.

Italië kon laas in 2015 ʼn Sesnasieswedstryd wen toe die Azzurri vir Skotland geklop het.

Saterdag se uitslae:

Frankryk 25, Engeland 13
Ierland 26, Skotland 5
Italië 22, Wallis 21

Puntestand

 Wedstryde gespeelGewenGelykopVerloorPunte-verskilBonus-puntePunte
Frankryk550068525
Ierland5401105521
Engeland52035210
Skotland5203-29210
Wallis5104-2837
Italië5104-12104

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.