Sesnasies: Hane speel vingeraflek-rugby

Fabien Galthie (Foto: Christophe Ena, AP)

Bestendigheid, of eerder ʼn gebrek daaraan, was nog altyd die remskoen van Franse rugbyspanne van weleer.

Wie sal dit nou beter weet as die huidige afrigter, Fabien Galthie, wat binne ʼn paar maande die ideale kombinasie van jeug en ervaring, breinkrag en spierkrag by vanjaar se span laat posvat het nadat hy die leisels by Jacques Brunel geneem het.

Hoe dan anders, want die Franse is die enigste onoorwonne span in vanjaar se Sesnasies-reeks nadat die Hane Wallis Saterdag in Cardiff met 27-23 geklop het.

Nadat Engeland Sondagmiddag die Iere se doppie met 24-12 op Twickenham geklink het, wink die Sesnasies-titel, en moontlik ook ʼn Grand Slam, vir die Hane.

Die Hane moet nog teen Skotland en Ierland speel en te oordeel na hul nuwe vindingrykheid, rotsvaste verdediging en bestendigheid, is dit moeilik om te sien hoe hulle van die titel af weggehou gaan word.

Om Wallis in Cardiff te klop, is geen geringe taak nie, want die Franse het dit laas in 2010 reggekry.

Die 50-jarige Galthie weet presies wat op die spelers wag, want hy was immers in Franse spanne wat so byna die Bokke in 1995 in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi in Durban geklop het. Hy was daar in 1999 toe die Hane die All Blacks in die halfeindronde van die WB-toernooi geskok het, én hy was die kaptein toe die Hane in 2002 die Sesnasies (en Grand Slam) gewen het.

Frankryk se Virimi Vakatawa bring Wallis se Leigh Halfpenny grond toe. (Foto: INPHO/Billy Stickland)

Hy het vanjaar raakgevat met twee vurige slotte. Is dit nie blote toeval nie dat albei van hulle, Paul Willemse en Bernard le Roux, klipharde Suid-Afrikaners is?

Hulle draai nie die ander wang vir die ander spanne nie, maar sorg dat die Franse voorry stewig in die skrums staan, dat daar ordentlik skoongemaak word by die losskrums.

Saam met die vurige flank en nuwe kaptein, Charles Ollivon (26), die jong vuurvreter-agtsteman, Gregory Alddritt (22), en die ander flank, Francois Cros (25), word daar geen doekies omgedraai nie.

Agterlangs herinner jong losskakel Romain Ntamack (20) baie aan sy pa, Emile Ntamack, wat ook gesweef het wanneer hy aangeval het.

Voeg daarby die bydraes van die Suid-Afrikaners Vlok Cilliers (skopafrigter) en Pieter de Villiers (skrumafrigter), asook die oud-Walliese rugbyligaspeler en afrigter, Shaun Edwards (verdediging) … en Galthie het ʼn wenspan.

* Die Engelse was gister weer op hul koppe en dis geen wonder nie dat die afrigter, Eddie Jones, so breed geglimlag het nie.

Hulle het die Iere geboelie, hulle het hulle uitoorlê, voos geduik, maar steeds weet ʼn mens nie hoe goed hulle werklik is nie.

En die Skotte, wat Italië met 17-0 geklop het?

ʼn Mens kan mos nie opgewonde oor een van dié spanne raak nie, al het jy ʼn sagte plekkie vir die Azzurri se afrigter, Franco Smith.

* Puntestand (onder span, gespeel, gewen, verloor, bonuspunte en ligapunte): Frankryk  3-3-0-1-13; Engeland 3-2-1-1-9; Ierland 3-2-1-1-9; Wallis 3-1-2-2-6; Skotland 3-1-2-2-6; Italië 3-0-0-0-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.