Sesnasies: Iere gee Engelse bloedneus ná rooi kaart

Die Iere het met 32-15 geseëvier (Foto: Guinness Six Nations, Twitter)

Engeland se rugbyspan het Saterdagaand op Twickenham die duur prys betaal toe die slot Charlie Ewels binne 82 sekondes met ’n rooi kaart in die Sesnasies-wedstryd teen Ierland van die veld gestuur is.

Dit was ná ’n gevaarlike hoogvat wat die Ierse slot James Ryan teen die kop getref het, en die kanse dat die Engelse toe nog sou wen om sodoende die agterdeur in die Sesnasies-reeks oop te hou, was daarmee heen.

Die Iere het met 32-15 geseëvier en dit uitgebuit om teen 14 spelers te speel deur vier drieë teenoor geen te druk.

Die Engelse het goed bygehou en diep in die tweede helfte was die wedstryd nog in die weegskaal, maar dit was net ’n kwessie van tyd voordat die damwal sou bars.

Die vraag is hoekom hedendaagse spelers die kuns “verleer” het om laag te vat, of is daar nie meer ’n plek daarvoor nie?

In die ou dae het voorspelers skaars twee of drie duikslae in ’n wedstryd uitgevoer en baie keer was hulle van hul voete af. Nou voer stutte en slotte gewoonlik meer as tien duikslae per wedstryd uit en word spelers geleer om op hul voete te bly.

Is dit die invloed van verdedigingsafrigters wat in rugbyliga grootgemaak is?

Nietemin, die Iere het die agterdeur oopgehou om die Sesnasies te wen, want as Engeland die Franse in hul laaste wedstryd troef en die Iere klop die Skotte, kan die vreugdevure in Ierland hoog brand.

* Punte: Engeland 15 (9): Strafdoele: Marcus Smith (5).

Ierland 32 (15): Drieë: James Lowe, James Gibson-Park, Jack Conan, Finlay Bealham. Doelskoppe: Jonny Sexton (3). Strafdoele: Sexton (2).

* Skotland het Saterdag in Rome geluier om Italië met 33-22 te klop nadat die Skotte met rustyd met 19-10 voor was.

Die Skotte het vyf drieë gedruk, hoewel die tuisspan se Ange Capuozzo twee drieë in die laaste paar minute vir Italië gedruk het.

Dit was die Azzuri se 36ste opeenvolgende nederlaag in die Sesnasies.

* In Cardiff het Frankryk Vrydagaand sy opmars in die reeks voortgesit en ook sy onoorwonne rekord behou toe hy Wallis met 13-9 geklop het.

Die vurige flank Anthony Jelonch het die Franse se enigste, en ook die enigste drie van die wedstryd, gedruk.

Alles dui daarop dat die Franse vanjaar as Sesnasies-kampioen gekroon sal word tensy hulle oor die laaste hekkie struikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.