Sesnasies: Iere kry neuse voor, maar Franse spel gevaar

(Foto: sixnationsrugby.com)

Die Sesnasiesreeks bly een van die wenresepte van rugby.

Hoeveel keer sedert 2012 is die Suidelike Halfrond se Rugbykampioenskap eers met die laaste reeks wedstryde bepaal?

Die Sesnasiesreeks is die soveelste keer op ʼn mespunt gebalanseer nadat Ierland Saterdag in Dublin Italië met 50 – 17 verslaan het om die voortou te neem met net Saterdag se laaste reeks wedstryde oor.

Soos gewoonlik is daar weer ʼn magdom permutasies om die wenner te bepaal nadat die reeks Saterdag ná 231 dae hervat is.

Al ses spanne het vier wedstryde gespeel en hoewel Skotland, Wallis en Italië uit die wedloop is, heers daar steeds groot belangstelling in hul vertonings.

Die Iere is met 14 punte voor, gevolg deur Engeland en Frankryk (albei 13), Skotland (10), Wallis (7) en Italië (0).

Maar die Iere moet komende Saterdag na Parys reis om teen die Franse af te sluit. As die Iere ʼn bonuspunt-sege behaal, is hulle vanjaar se kampioenspan, maar nadat die Franse Saterdagaand vir Wallis in ʼn opwarmtoets met 38 – 21 geklop het en vyf sprankeldrieë gedruk het, is dit geen uitgemaakte saak nie.

As die Iere nie ʼn bonuspunt-oorwinning behaal nie en die Engelse kry dit teen Italië reg, sal die wenner weer deur punteverskil bepaal word.

Engeland, wat teen Italië in Rome afsluit, sal na alle waarskynlikheid ʼn bonuspunt verower, al is die Engelse opwarmwedstryd wat Sondagmiddag teen die Barbarians gespeel sou word, afgelas vanweë Covid-19-protokolle.

Dan heers daar groot belangstelling in die kragmeting tussen Wallis en Skotland nadat die Skotte Vrydag vir Georgië met 48 – 7 getroef het en daar ʼn groot oplewing in hul spel is.

Gaan die Suid-Afrikaners Duhan van der Merwe, Oli Kebble en Cornell du Preez nog ʼn speelkans kry? En wat van WP Nel?

* Punte: Ierland 50 (24): Drieë: CJ Stander, Hugo Keenan (2), Will Connors, Johnny Sexton, Bundee Aki, Dave Heffernan. Doelskoppe: Sexton (5), Ross Byrne. Strafdoel: Sexton.

Italië 17 (3): Drieë: Edoardo Padovani, Paolo Garbisi. Doelskoppe: Garbisi. Strafdoel: Garbisi.

* Oorblywende bepalings: 31 Oktober: Frankryk teen Ierland; Engeland teen Italië; Wallis teen Skotland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.