Sesnasies in sakkie; nou het Sexton Wêreldbeker in visier

Johnny Sexton en Ierland het die Sesnasiesreeks onoorwonne afgesluit. Foto: Paul Faith/AFP.

Ierland se droom om die Sesnasies-toernooi as die enigste onoorwonne span af te sluit het ʼn werklikheid geword toe hulle vir Engeland met 29 – 16 in Dublin geklop het.

Nodeloos om te sê glimlag Johnny Sexton van oor tot oor. En ondanks die feit dat die losskakel al 38 jaar oud sal wees wanneer die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk begin, is hy oorgehaal om sy internasionale loopbaan [moontlik] op ʼn baie hoë noot af te sluit.

“Ek dink ʼn Grand Slam-vertoning in die Sesnasiesreeks is baie spesiaal,” het die Ierland-kaptein gesê.

Hy het ook die vrese afgelag dat Ierland ʼn bietjie te vroeg die kruin van die golf bereik het en dat hulle sonder veel momentum om die Webb Ellis-trofee sal baklei.

“Dis nie ʼn vereiste om swak in die Sesnasies te vertoon om die Wêreldbeker te wen nie. Toe Engeland in 2003 die eindstryd teen die Wallabies gewen het, was hulle ook onoorwonne in die Sesnasies-reeks. Ons moet net ons voete op die grond hou en op ons sukses probeer voortbou.”

Volgens afrigter Andy Farrell verdien die immergroen no. 10-speler ʼn reuseklop op die skouer vir sy leierskap en veggees op die rugbyveld.

“Dit is vir my ongelooflik gepas dat waarskynlik die beste speler wat nóg vir Ierland gespeel het die Grand Slam-titel op St. Patrick-dag voor sy tuisskare kon inoes,” het die breier gesê.

Die Springbokke speel op 23 September teen Ierland op die Stade de France en die Suid-Afrikaners kan nie bekostig om hul teenstanders te onderskat nie.

“Ierland skram nie weg van ʼn fisieke tweestryd nie, hulle speel tegnies baie goeie rugby en hulle het gewys dat hulle drieë kan druk. Ek dink die Iere het ongetwyfeld hul spel gelig en, met die oog op die Wêreldbeker, is hulle besig om op die regte tyd vlam te vat,” het Kobus Wiese vroeër aan Maroela Media gesê.

Intussen is ʼn paar Engeland-ondersteuners suur oor Jaco Peyper se besluit om vir Freddie Steward met ʼn rooi kaart van die veld te jaag.

Steward was teen die einde van die eerste helfte in ʼn botsing met Hugo Keenan betrokke en die Ierse speler het harsingskudding opgedoen.

Van Will Carling tot Ben Stokes het die beslissing veroordeel, terwyl Joe Marler dit as belaglik bestempel het.

Tog het oudskeidsregter Paul Smith gesê dat die Suid-Afrikaanse fluitjieblaser korrek opgetree het; veral as jy Wêreldrugby se regulasies rondom hoofbeserings in ag neem.

“Jaco Peyper het vir sy mede-wedstrydbeamptes en die TV-luisteraars die pefekte voorbeeld gegee van hoe daar deesdae van beamptes verwag word om in só ʼn situasie op te tree,” het Smith gesê.

“Onthou, hy is nie verantwoordelik vir die skryf van die reëls nie. Hy moet dit net toepas.”

  • Sesnasies-punteleer:
  1. Ierland: 27 punte
  2. Frankryk: 20 punte
  3. Skotland: 15 punte
  4. Engeland: 10 punte
  5. Wallis: 6 punte
  6. Italië: 1 punt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.