Sesnasies: Nie te veel pitkos vir Rassie-hulle nie

Rassie Erasmus – praat met oorsese Bokke. (Foto twitter munsterrugby)

Die direkteur van rugby en heelwaarskynlik ook Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sou nie Saterdagaand op Twickenham te veel wys geword het toe Engeland vir Wallis met 12-6 in die Sesnasiesreeks geklop het nie.

Dit was ʼn gestoei, gekenmerk deur flouerige taktiese skopwerk en met ʼn hele paar foute (bygesê, die veld was nat en die bal glad ná die reën).  Daar is leemtes by albei spanne ontbloot, maar hulle loop gebuk onder ʼn ellelange en ongekende beseringslys en die span(ne) wat in Junie teen die Bokke sal speel, sal heel anders daar uitsien.

Erasmus sal sekerlik ook die kragmeting tussen Ierland en Italië, wat die Iere met 56-19 gewen het, die een of ander tyd dophou, want die Bokke speel aan die einde van die jaar teen Italië en die Azzurri is in dieselfde groep as die Bokke, All Blacks en straks ook Namibië vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi ingedeel.

Wat Erasmus ook sou opgeval het, is dat ʼn baie onwyse besluit sal wees om die week voor die eerste Engelse toets in Junie teen Wallis in Amerika te speel.

Dit gaan onnodige eise aan die spelers stel. Hulle sal vlugflou wees, hulle sal nie behoorlik vir die eerste Engelse toets kan voorberei nie vanweë die lang vlugte en tydsverkil en boonop sal  Wallis baie hoë eise aan die Bokke stel.

Ja, die beursie moet gebult word, maar ten koste van die Bokke?

Erasmus-hulle is ook op ʼn feitesending (het hulle in ekonomiese klas gevlieg?) en het glo reeds onderhoude met verloopte Springbokke wat oorsee speel, soos Vincent Koch, Cobus, Reinach, Willie le Roux, Bismarck du Plessis, Pat Lambie, Jan Serfontein, Juan de Jongh, JP Pietersen en Duane  Vermeulen gevoer en hulle van die vereistes oor fiksheid en spelpeil ingelig.

Koch is glo baie hoog op Erasmus se inkopielys, maar hy het nog net in nege toetse gespeel en voldoen nie aan die bepalings van die Suid-Afrika se beleid van 30 toetse (vir die oorsese spelers) om in aanmerking vir toetsrugby te kom nie.

Hy sal dus, net soos Steven Kitshoff verlede jaar, uit sy oorsese kontrak moet kom en permanent na Suid-Afrika terugkeer.

Die Bulls stel glo belang in die Bokvaskopstut aan boord te kry, maar dit sal teen ʼn hoë prys wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die vrae is net ; Sal daardie spelers lus voel om weer terug te keer en sal die geldelike pryse vir elk nie te hoog wees nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.