Sesnasies: Nou sal Eddie Jones éérs moet kopspeletjies speel

sesnasies-grootHoe goed is die Engelse rugbyspan werklik?

Dié vraag sal oor die volgende maand beantwoord word wanneer die Sesnasies-reeks op 18 Maart op die spits gedryf word.

Engeland speel op die treinspoor ná twee deurskraap-oorwinnings oor Frankryk en Wallis, maar is die enigste onoorwonne span in die reeks. Glorie wink: die Kampioenskapstrofee, Grand Slam, Calcuttabeker, Millenniumtrofee, Triple Crown en die All Blacks se wêreldrekord van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings.

Een van die afrigters, Eddie Jones, se moeilikste take is om sy span se aandag van die wêreldrekord af te trek.

Dit behoort nie te moeilik te wees wanneer Engeland Sondag op Twickenham teen Italië uitdraf en sy 17de oorwinning agtereenvolgend te behaal nie, maar dan volg Skotland om die All Blacks se rekord te ewenaar en Ierland om die rekord te laat spat.

Ja, die einste Iere wat die All Blacks onlangs in Chicago geklop het om húl rekordtog tot ʼn einde te bring.

Toe die Bokke in 1998 ook op die randjie van die All Blacks se destydse rekord van 17 agtereenvolgende oorwinnings was, het dit die toer oorheers.

Die Bok-afrigter, Nick Mallett, het die regte balans probeer hou, hy het die spelers se voete op die grond probeer hou, hulle oor die slaggate gemaan, maar  die spelers se aandag was afgetrek omdat daar aanhoudende vergelykings getref is met die legendariese All Blacks-spanne van 1965/’69 wat die rekord opgestel het: Bryan Lochore, Colin Meads, Ian Kirkpatrick, Sid Going, Grahame Thorne, Malcolm Dick en Fergie McCormick.

Die Bokke het in die laaste wedstryd op toer teen Engeland vasgeval en hul beste kans (en straks enigste) om die rekord te laat spat, het aan skerwe gelê.

♦  In Dublin kom die Iere Saterdag voor hul grootste toets teen Frankryk te staan, veral nadat hulle teen Skotland slae gekry het.

Alle oë is gerig op die Ierse losskakel, Jonny Sexton, wat  vyf weke gelede sy kuit vir Leinster teen Castres beseer het en laas in Oktober vir 80 minute  op die veld was.

Sexton is Ierland se Naas Botha, die All Blacks se Dan Carter, Engeland se Jonny Wilkinson.

Hy moet oorheers, die bal voor die voorspelers hou, genoeg kanse vir sy buiteagterspelers skep.

Die Franse het ʼn monster-pak (neem kennis, Suid-Afrika, wanneer daar ook al ʼn afrigter aangewys word). Agterlangs is daar grootte en vaart, maar dit bly ʼn raaisel waarom daar altyd ʼn stukkie van die Ierse legkaart weg is.

♦  Wallis behoort Skotland, wat met ʼn rits beserings sukkel, op Murrayfield te klop.  Die Skotte het vyf veranderings aan die span gebring wat deur die Franse geklop is, drie daarvan noodgedwonge  vanweë beserings. Wallis is op volle sterkte. Hulle het vlamgevat teen die Engelse, en  hulle het wedstrydwenners in Leigh Halfpenny, George North en Dan Biggar.

My voorspellings? Engeland met 25 punte, Ierland met 6 en Wallis met 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.