Sesnasies: Skotte speel Engelse tjoepstil

Daar trap die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, toe in sy eie strik.

Jones het die afgelope twee jaar Springbokmodelle van weleer gevolg deur voorkeur aan groot, fisieke spelers te gee. Maar Saterdag in Edinburg het Jones-hulle die dure les geleer dat passie, tradisie en die uitvoer van die basiese beginsels steeds die boustene van rugbysukses is.

Die Skotte het die Engelse in die Sesnasiesreeks met 25-13 geskok en ʼn hele paar leemtes oopgevlek met die oog op die Engelse toer in Junie na Suid-Afrika,

Die Skotte het baie beter verdedig (hulle het 149 keer verdedig teenoor die Engelse se 111), hulle was vinniger by die afbreekpunte (Richie Gray, vaardigheidsafrigter wat die Bokke ʼn paar jaar gelede met groot vrug geslyp het, is nou weer terug by die Skotte) en hulle het drie drieë gedruk.

Plaas dit in perspektief: Die Skotte kon sedert 2004 nie ʼn drie teen die Engelse op Murrayfield druk nie en Saterdag het hulle drie drieë binne 21 minute gedruk – twee deur die oud-Stormer Huw Jones.

Eddie Jones het ná die tyd gesê sy spelers is nie robotte nie, maar dis presies waarin hy hulle probeer verander het. Al verskil is dat hul batterye pap geword het.

Nou weet die Bokke hoe om die Engelse te klop, nou is die mantel van onoorwinlikheid afgeskud, en nou moet Jones soos baie afrigters voor hom die skerwe optel.

♦  Ierland het in Dublin sy onoorwonne vertoningslys in die reeks voortgesit toe hy Wallis met 37-27 geklop het. Die Iere is op pad om die Sesnasies te wen, en hoewel hulle derde, agter Engeland, op die wêreldranglys is, kan hulle voor die einde van die seisoen by Engeland oorneem en in die All Blacks se nekke blaas.

Wie het boonop die All Blacks in 2016 in Chicago geklop?.

Die Iere se afrigter, Joe Schmidt, het nie die wiel herontdek nie. Die Iere is nie die mees opwindende span in wêreldrugby nie, die skakelpaar Conor Murray en Johnny Sexton, skop baie meer as die ander spanne. Maar die Iere is baie doeltreffend en speel volgens hul sterkpunte en met passie.

♦  Frankryk het Vrydagaand in Parys vir Italië met 34-17 geklop. Die groot vraag wat gevra word, is of Italië steeds ʼn plek in die Sesnasies waardig is en of Georgië nie eerder die kans moet kry nie.

Dit was ʼn uitgedunde Franse span (die agt spelers wat ná die onlangse Skotse toets drooggemaak het, is almal gepos) maar steeds het die Azzurri nie genoeg skietgoed gehad nie.

Gaan hulle dit ooit hê met net twee spanne (Zebre en Benetton Treviso) wat in die Pro14-speel speel en sukkel, en waaruit hulle die nasionale span moet kies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.