Sesnasies-waarskuwing vir die Bokke

franse-logo-croppedDaar wag groot probleme op die Springbokke in Junie se sogenaamde inkomende reeks as hulle nie drasties op verlede jaar se geploeter verbeter nie

Verlede jaar het die Bokke deurgeskuur teen ʼn middelmatige Ierse span wat nie naastenby die krag was wat hul later geword het toe al hul spelers beskikbaar was en selfs die All Blacks in Chicago dit moes ontgeld nie.

Vanjaar, egter, is die Franse op pad na Suid-Afrika vir die drie Junie-toetse – en geoordeel aan die gehalte van hulle spel en ook hulle speelstyl Saterdag toe Engeland 19-16 in hulle Sesnasies-kragmeting laat deurskraap het, wag daar probleme op die Bokke.

Frankryk se ondersteunende spel, eerder as net ʼn dolle uitgee van die bal vleuels toe, het Engeland dikwels oorhoops gehad. Tog was dit duidelik dat hierdie nuwe span se agterlyn ook heelwat slaankrag het.

Hulle is nog besig om hulle toetsvoete te vind, maar hier kom gewis ʼn ding.

Die Hane het stewig geskrum en kort nog ʼn bietjie werk in die lynstane, maar die nuwe afrigter Guy Noves het hier met sy groot, beweeglike pak en slim spelers van heelagter tot loskop, ʼn wenkombinasie wat met verfyning oor die volgende paar weke net gaan verbeter.

Van oop rugby was daar min sprake, en Engeland kon selde iets meer doen as hoek toe skop en dryf. Dit was hard en taai, en dit was net die vermoë van Frankryk om (taamlik gereeld) gate met goeie ondersteuning te skep wat lewe aan die wedstryd gebied het.

Rustyd was dit 9-elk met albei spanne wat op strafdoele staatgemaak het. Elk het egter na rustyd ʼn drie gedruk in ʼn wedstryd waar die Franse kaptein Louis Picamoles uitgeblink het en Scott Spedding, die Franse heelagter uit Suid-Afrika, die beste agterspeler op die veld was.

Puntemakers –

Engeland (9) 19: Drie: Ben Te’o. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell 3, Elliot Daly.

Frankryk (9) 16: Drie: Rabah Slimani. Doelskop: Camille Lopez. Strafdoele: Lopez 3.

♦  Om die bal rond te gooi het wel sy plek, maar goeie oordeel en rotsvaste verdediging wen wedstryde.

Dit is onderstreep toe Ierland, wat as gunsteling saam met Engeland beskou is om die Sesnasiesreeks die seisoen te wen, 22-27 teen Skotland in Edinburgh vasgeval het.

Die Skotte het baie foute gemaak, en heelwat besit is omgekeer in veral die lynstane en skrums. Maar ook by die afbreekpunte, waar CJ Stander net eenvoudig skitterend vir Ierland was, moes die Skotte dit hier na die einde toe dit ontgeld na hulle ook `n uur lank hier die toon aangegee het.

Hulle het egter vir die swakhede vergoed deur op hulle tuisveld te keer soos jy min sal sien.

Meer as 200 duikslae later was daar letterlik Skotse trane van blydskap op die paviljoen.

Maar miskien het die fout gelê by die Iere wat met alles eenvoudig vleuel toe gespeel het. Daar was min afwisseling in die aanvalle en in hul speelpatroon, wat die Skotte selde met skoppe laat omdraai het.

Skotland was na die eerste halfuur al 21-5 voor, en het in die tweede helfte hoofsaaklik deur hulle vasbeslotenheid en wilskrag uitgehou.

Ierland bly ʼn baie goeie span – en hulle kan steeds die Sesnasies wen. Maar dan sal hulle Engeland en Frankryk moet klop, of hoop die Skotte doen dit namens hulle …

Puntemakers –

Skotland (21) 27: Drieë: Stuart Hogg (2), Alex Dunbar. Doelskoppe: Greig Laidlaw 3 Strafdoele: Laidlaw 2.
Ierland (8) 22: Drieë: Keith Earls, Iain Henderson, Paddy Jackson. Doelskoppe: Jackson 2. Strafdoel: Jackson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietser ·

Om een of ander rede vind ons altyd die Hane ‘n baie moeilike teenstander in SA maak nie saak hoe goed of sleg ieder span is nie. Hulle speel altyd goed hier, gaan moeilik wees.

chrisp ·

Nee wat die Proteas gaan maar sukkel met hulle PK spannetjie en afrigting.

Frans C ·

Solank politiek en kwotas ‘n rol in rugby bly speel moet ‘n mens maar weet dit sal nooit weer dieselfde weesnie.

Boesma ·

SA rugby gaan bly waar dit verlede ge-eindig het. Met AC as hoofafrigeter, politieke inmenging /voorskrifte vir spelers wat nie regverdig om die boktrui oor die kop te trek nie, onervare hulp afrigter, swak keurders, ens. Dis sleg vir ons as rugby ondersteuners maar dit is die waarheid.

Speedguard ·

Dit is so duidelik soos daglig dat hul afrigting strate beter as ons s’n is, kyk die kwaliteiet spel wat SA spelers in die Noorde oorsee opdis, afrigters soos Brendin Venter, Rassie Erasmus ens. hul sal baie dom wees om hulle loopbane op die spel te plaas om die ghaos in SA te probeer reg maak, ons sal al Laaankal Daisys stoot dan sal die Sa Rugby Unie nog steeds voort ploeter! Bly daar ouens en maak julle geld vir julle ou dag , julle verdien dit want niemand gaan na julle kyk as julle nie meer speel of afrig nie by ‘n plek waar daar nie politiek betrokke is nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.