Sesnasies: Wallis dra (byna) die kroon

Willis Halaholo van Wallis (13 Maart 2021) (Olympic-stadion in Rome) (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Die agterdeur staan nou oop vir Wallis se rugbyspan om as vanjaar se Sesnasieskampioen gekroon te word, mits die Rooi Drake nie toelaat dat die Franse in hul laaste kragmeting in Parys daardeur glip nie.

Wallis, wat twee weke gelede reeds die Triple Crown verower het deur al sy kragmetings met die ander Britse tuisunies te wen, is nou ook die enigste onoorwonne span in die Sesnasies nadat hy Italië met 48-7 in Rome afgeransel het.

Later Saterdagaand het Engeland sy agtste opeenvolgende oorwinning oor Frankryk op Twickenham behaal toe hy die Hane in ʼn aanskoulike wedstryd met 23-20 geklop het.

Dit was ʼn baie goeie rigtingaanwyser vir die Wêreldbekertoernooi in 2023 en het gewys dat albei spanne op die regte pad is as hulle hierop voortbou en nie weer in hul doppe kruip, arrogant raak en hul dissipline bly handhaaf.

Wallis speel nog teen die Franse in die Stade de Français terwyl die Hane se uitgestelde kragmeting (vanweë Covid19) teen Skotland ook nog beslis moet word.

Wallis is gerieflik voor op die puntelys (19 punte) gevolg deur die Franse en Engeland (albei op 10), Ierland (8), Ierland (7), Skotland (5) en Italië (0).

As die Franse die Walliesers en dan ook die Skotte met bonuspuntoorwinnings troef, kan hulle die Sesnasieskroon nog dra, andersins is dit neusie verby.

Engeland het sy oorwinning eers in die 77ste minuut beklink toe die slot Maro Itoje ʼn drie gedruk het, wat eers die televisieskeidsregter, Joy Neville, bekyk is voordat dit toegeken is.

Die jong Franse span, wat uit ʼn magdom spelers bestaan wat die afgelope twee keer die Junior Wêreldbeker verower het, het weer groot indruk gemaak met hul flair, passie en verdediging.

Die heelagter Brice Dulin, die vleuel Damian Penaud en die skakelpaar, Matthieu Jalibert (loskakel) en die skrumskakel Antoine Dupont (wat ʼn vonds is hy nie!) het agterlangs die sweep geklap terwyl die voorspelers hul man gestaan het.

Maar die Engelse het die eerste keer in ʼn lang ruk ook baie groot indruk gemaak.

Die afrigter, Eddie Jones, weet nou met watter spelers hy vorentoe toe kan gaan en as van sy beseerde spelers terugkeer, kan daar weer ʼn glimlag op sy stoere gesig verskyn.

Ook was Engeland se dissipline baie beter, want waar die Rose 41 strafskoppe in hul eerste drie wedstryde afgestaan het, is hulle Saterdag eers in die 25ste minuut die eerste keer gestraf.

* Punte:

Engeland 23 (13): Drieë: Anthony Watson, Maro Itoje. Doelskoppe: Owen Farrell (2). Strafdoele: Farrell (3).

Frankryk 20 (17): Drieë: Antoine Dupont, Damian Penaud. Doelskoppe: Matthieu Jalibert (2). Strafdoele: Jalibert (2).

* In Rome het die Walliesers sewe drieë in hul glansoorwinning oor Italië gedruk. Die Rooi Drake het reeds 17 drieë in vanjaar se reeks gedruk, wat hul vorige beste ewenaar.

Dit was ook Wallis se 16de agtereenvolgende oorwinning oor die Azzurri en die laaste keer dat die Italianers kon wen, was in 2007.

Dit was Italië se 31ste opeenvolgende nederlaag in die Sesnasies en hulle het in vanjaar se reeks reeds 187 punte afgestaan en 26 drieë laat deurlek.

* Punte:

Italië 7 (0): Drie: Monty Ioane. Doelskop: Paolo Garbisi.

Wallis 48 (27): Drieë: Ken Owens (2), Josh Adams, Taulupe Faletau, George North, Callum Sheedy, Louis Rees-Zammit. Doelskoppe: Dan Biggar (3), Sheedy (2). Strafdoel: Biggar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Franse skakelpaar is baie goed. Jalibert se spoed is indrukwekkend so ook sy verspreiding en aanvals lyne. Hy is nog nie ‘n “generaal” soos Pollard nie en sy taktiese skoppe het nie eintlik gewys nie maar hy het tonne talent. du Pont se spel en “grit” herhinner baie aan Faf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.