Sesnasiesdrama in Parys

Frankryk het laat Saterdagaand ʼn doodsniksege van 32-30 oor Wallis in die Stade Français behaal. (Foto: Guinness Six Nations/Facebook)

Skotland se rugbyspan hou komende Vrydagaand in Parys die sleutel vir sukses in vanjaar se dramatiese Sesnasiesreeks.

Dit het gevolg nadat Frankryk laat Saterdagaand ʼn doodsniksege van 32-30 oor Wallis in die Stade Français behaal het om die agterdeur vir die Hane oop te hou om as vanjaar se kampioen gekroon te word.

Vroeër het Ierland vir die Boere-Ier CJ Stander ʼn gepaste afskeidsgeskenk gegee toe hy Engeland met 32-18 in Dublin (selfs met 13 spelers op die veld) ore aangesit het.

Die Skotte het ook hul grootste sege (punteverskl) nog oor Italië behaal toe hulle in Edinburg met 52-10 gewen het.

Soos sake staan, moet die Franse die Skotte in Vrydagaand se uitgestelde kragmeting in Parys (weens die Covid-19-pandemie) met minstens 21 punte klop en ʼn bonuspuntoorwinning behaal om die Sesnasieskroon te dra.

Wallis was, met net agt minute oor, nog met 30-20 teen die Franse voor.

Maar druk laat mense snaakse dinge doen.

Die noodlot het toegeslaan en twee geel kaarte (hul eerste van die reeks) aan Wallis se Taulupe Faletau en Liam Williams het die Franse hoop laat opvlam.

Eers het die kaptein, Oliver Ollivon, gedruk en met speeltyd verstreke het die heelagter, Brice Dulin, met die laaste beweging die Franse laat wen.

Die Walliesers was platgeslaan en die Franse het gejubel in ʼn dolleë stadion.

* Vroeër het Johnny Sexton 22 punte vir die Iere aangeteken teen Engeland en ondanks die rooi kaart aan Bundi Akee (gevaarlike hoogvat op Billy Vunipula) en Conor Murray (geel kaart vir ʼn soveelste oortreding) kon niks die Iere van ʼn oorwinning af weghou nie.

Stander, wat aan die einde van die Europese seisoen saam met sy vrou, Jeane-Marie (Neethling, Ryk Neethling se sussie), ná 51 toetse na Suid-Afrika terugkeer om meer tyd saam met sy gesin op die familieplaas in George deur te bring, was een van die Ierse stormramme wat die Engelse platgevee het.

* Skotland, onder andere die makro-Suid-Afrikaanse vleuel Duhan van der Merwe (2), het agt drieë teen die Italianers ingeryg.

Die punteverskil van 42 punte verbeter die vorige rekord wat die Skotte in ʼn opwarmtoets teen die Azzurri vir die Wêreldbekertoernooi in 2015 opgestel het.

Dit was Italië se 31ste opeenvolgende nederlaag in die Sesnasies. Hulle het ook meer drieë (34) en die meeste punte (239) afgestaan en hul negatiewe punteverskil van 181 is die swakste in 21 Sesnasies-seisoene.

Sesnasies-puntestand (onder wedstryde gespeel, gewen, gelykop, verloor, punteverskil, bonuspunte en ligapunte):

Wallis      5  4  0  1  61  4  20

Ierland     5  3  0  2  43  3  15

Frankryk   4  3  0  1 41  3  15

Skotland   4  2  0  2  43  3 11

Engeland  5  2  0  3  -9  2  10

Italië         5  0  0  0  5 -184 0

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Iere het die engelse behoorlik pap gespeel. Dalk moet die engelse minder knie buig voor die wedstryd dit maak die been spiere moeg……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.