Sesnasiesreeks: Eddie Jones se hoofbrekens

Jamie George (Foto: Twitter)

Jare gelede was die Springbokspan by dieselfde kruispad: Was die haker en kaptein, John Smit, ondanks sy veelsydigheid, lojaliteit en leierseinskappe, goed genoeg om Bismarck du Plessis uit die beginspan te hou?

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, worstel nou met dieselfde probleem: is die haker en kaptein, Dylan Hartley, goed genoeg is om sy plek bo Jamie George te behou?

Hartley was sedert 2016 in 25 van Engeland se 26 toetse onder Jones in die beginspan en kaptein. Engeland het onder Hartley en Jones net twee keer verloor, maar baie Engelse kenners glo dat George, wat die Britse en Ierse Leeus se haker in verlede jaar se reeks teen Nieu-Seeland was, eerder die regmerkie moet kry. Hy is woeliger, is nie ʼn kruitvat wat wag om te ontplof nie, en word ook nie soos Hartley in die tweede helfte vervang nie.

Saterdag in Parys is Engeland sonder Hartley in die Sesnasiestoets teen Frankryk nadat hy ʼn kuitbesering opgedoen het. Die senter Owen Farrell neem die kapteinskap oor en George kry sy kans in die opdrafspan.

Al wen Engeland, al speel George ook al hoe goed, glo ek nie Jones sal krap waar dit nie jeuk nie. Hy volg sy eie kop, net soos Jake White en Peter de Villiers destyds met Smit. Hy sal na alle waarskynlikheid nie nou vir Hartley die trekpas gee nie, veral nie met die toetsreeks van drie toetse, en boonop Malcolm Marx, wat in Junie teen die Springbokke op die Rose wag.

♦ In Saterdag se vroeë wedstryd kan Ierland die Sesnasiesreeks beklink wanneer hy in Dublin teen Skotland speel. Dis is nou te sê as die Iere met ʼn bonuspunt wen en Engeland word van ‘n bonuspunt deur die Hane weerhou.

Die Iere verdien dit, hulle het immers die All Blacks in 2016 met 40-29 geklop, die Wallabies (27-24) ook en in 2017 Engeland (13-9) en die Springbokke met 38-3 afgeransel.

♦ Sondagmiddag pak Wallis vir Italië in Cardiff. Die Walliese afrigter, Warren Gatland, het baie veranderings aan sy span aangebring wat teen die Iere verloor het; en hou die nuwelinge maar dop, baie van hulle sal op 2 Junie in Washington in die nikseggende geldmaaktoets teen die Springbokke speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.