Sesnasiesreeks: invloed van buite bring ʼn vars briesie

sesnasies-grootDis die ou, ou storie … dis nie net die All Black-rugbyspan nie, maar ook die Nieu-Seelandse afrigters wat die pas in wêreldrugby aangee.

Dus sal die rol wat die oorsese afrigters in die oplewing van rugby in die Sesnasiesreeks speel, die naweek opnuut onder die vergrootglas geplaas word.

Is dit nie ironies nie dat die drie voorste spanne (Engeland, afgerig deur die Australiër Eddie Jones), Ierland (afgerig deur die Nieu-Seelander Joe Schmidt) en Skotland (afgerig deur nóg ’n Nieu-Seelander Vern Cotter) die boonste drie posisies op die puntelys beklee nie?

Daar is min fieterjasies, al drie spanne voer die basiese beginsels reg uit, maar is nie bang om kanse te waag en geleenthede aan te gryp nie.

Saam het hulle reeds sewe van hul nege wedstryde in vanjaar se reeks gewen, 252 punte aangeteken, wat 29 drieë insluit, en net 150 punte afgestaan en nege drieë deurgelaat.

Vergelyk dit met die laaste drie spanne op die puntelys: Wallis (Robert Howley), Frankryk (Guy Noves) en Italië (Conor O’Shea). Dié drie lande het net 141 punte aangeteken, wat 11 drieë insluit, maar 263 punte afgestaan en 27 drieë deurgelaat.

Ja, statistieke kan verdraai word, maar niemand kan dit ontken dat daar die afgelope paar maande  ʼn opflikkering by Engeland, Ierland en Skotland is, terwyl Wallis, Frankryk en Italië steeds op die ou snare tokkel.

Wallis, wat vanaand  in Cardiff teen Ierland speel, is met die rug teen die muur. Howley , wat instaan vir die hoofafrigter Warren Gatland  (nog ʼn Nieu-Seelander wat later vanjaar die Britse en Ierse Leeus ʼn tweede keer afrig), word allerweë gekritiseer. Hy het sedert die Wêreldbekertoernooi net drie nuwelinge gekies terwyl Schmidt 19 nuwelinge kans gegee het om die Iere se spelerspens vol te hou.

Die gewese Walliese agsteman Andy Powell het volgens die Irish Independent gesê Howley skiet tekort om die spelers reg te bestuur.

“Ons sal die wyse waarop ons speel moet aanpas en die spelers toelaat om meer kreatief te wees. Ons het dit te veel mense in die afrigtingspan wat dit nie maak,” het Powell gesê.

Kan dieselfde ook nie maar van die Bokafrigter,  Allister Coetzee, gesê word nie?

As die Iere vinnig begin en die vroeë aanslag van Wallis afweer, behoort hulle Wallis weer te klop en die deur oop te hou om aanstaande Saterdag die reeks teen Engeland te beklink.

Engeland, wat Saterdag op Twickenham teen Skotland speel, is op koers om sy 18de opeenvolgende sege te behaal om die All Blacks se wêreldrekord te ewenaar.

Die Skotte, wat Engeland laas in 2008 geklop het in 1983 laas ʼn oorwinning op Twickenham te behaal het, is soos Pale Toe! weke gelede  voorspel het, die verassingspakkie van die reeks.

Hulle het die eerste keer in jare spelbrekers en spelskeppers agterlangs, hulle ding baie goed in die lynstane en die los mee en hulle het tot dusver net vyf drieë afgestaan.

Ek glo ook nie daar sal ʼn plaaslike toeskouer wees wat nie die Skotte sal ondersteun nie, maar maklik sal dit beslis nie maklik wees nie. Daarvoor sal Jones sorg.

♦  In Rome behoort die Franse Hane Italië maklik te klop.

Die Italianers kon Frankryk nog net drie keer in 39 wedstryde klop en na alle waarskynlikheid sal dit tot drie uit 40 groei.

Die naweek se bepalings –

Vrydagaand: 22:00: Wallis vs Ierland in Cardiff.
Saterdag: 15:30: Italië vs Frankryk in Rome.
18:00: Engeland vs Skotland in Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Pieter,
Kom wees eerlik jy kan nie regtig die Italianers met die Pommies vergelyk nie. Gee hulle Eddie Jones as afrigter en hulle is nog steeds nie op dieselfde vlak nie. Nick Mallet het wondere verrig maar behalwe ‘n lekker klomp geld wat hy gekry het is nie veel bereik nie. Dit gaan baie jare vat voordat spanne soos Japan en Italie ‘n krag in wereld rugby word. As ons spannetjie net op peil (soos van ouds) was sou hulle nie ‘n kans gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.