Sesnasiesreeks: ʼn bitter pil vir Suidelike Halfrond

 

sesnasies-logoDis sekerlik ʼn bitter pil vir rugbybase in die Suidelike Halfrond om te sluk, maar daar heers groter belangstelling vir vanjaar se Sesnasiesreeks as vir die Rugbykampioenskap.

Dalk het die Rugbykampioenskap afgesaag geraak vanweë die All Blacks se oorheersing; of het die agteruitgang van Springbokrugby ʼn groot rol gespeel, en dalk  moet dit aanvaar word dat Argentinië maar al te gereeld sake om die houtlepel sal uitspook.

Toetsrugby gaan oor mededinging, passie en tradisie, oor ʼn knop in die keel en die trane wat rol wanneer die volksliedere gespeel word, oor volgepakte stadions.

Dit word allerweë verwag  dat Engeland en Ierland sake om die Sesnasieskroon sal uitspook. Jeremy Guscott, Richie McCaw, Keith Wood en ʼn rits ander kenners dink ook so, maar moenie verbaas wees as Skotland en Frankryk vir ʼn opskudding langs die pad sorg nie.

Ierland en Skotland skop die reeks Saterdagmiddag om 16:25 (SA tyd) in Dublin af, gevolg deur Engeland en Frankryk om 18:50 op Twickenham. Sondag om 16:00 speel Italië teen Wallis in Rome.

Kom ons weeg die spanne se kanse vir die naweek op, en ook om op 18 Maart as kampioen gekroon te word:

Engeland: Ná 13 agtereenvolgende oorwinnings en onder die bekwame afrigting van Eddie Jones moet hulle die gunsteling wees. Die span het goeie aanvallers, ʼn rotsvaste verdedigingspatroon en tuisveldvoordeel.

Hulle behoort die Franse Saterdag te klop om vroeg hul neuse as kampioene voor te kry. Spelers om dop te hou:  Mike Brown, Owen Farrell, Maro Itoje. Wenkans: 9 /10.

Ierland: Ná die reeks verlede jaar teen die Bokke en hul oorwinning oor die All Blacks in Chicago, het die Iere nuwe aansien gekry. Ja, die Iere is sonder die beseerde Jonny Sexton, maar onder die afrigter, Joe Schmidt, speel hulle as ʼn eenheid en plaas hulle hul lywe vir mekaar op die spel. Die rol wat Rassie Erasmus by Munster speel, het oorgespoel na die nasionale span. Spelers om dop te hou: Garry Ringrose, Conor Murray, CJ Stander. Wenkans: 8/10.

Skotland: Die Skotte toon ʼn opwaartse kurwe. Hulle spog deesdae met agterspelers wat die verdedigingslyn kan oopkerf, oor vaste voorspelers wat bereid is om hul moue op te rol. Hulle sal sukkel om die Iere te klop, maar kan later in die reeks verras. Spelers om dop te hou: Huw Jones, Greg Laidlaw, Richie Gray, Josh Strauss. Wenkans: 4/10.

Frankryk: Onvoorspelbaar en onbestendig, maar steeds gevaarlik. Hulle behoort teen Engeland vas te val, maar kan later steeds die kaarte deurmekaarkrap: Spelers om dop te hou: Scott Spedding,  Noa Nakataci, Louis Picamoles: Wenkans: 4/10.

Wallis: Hul verdediging is nie na wens nie en sonder die afrigter Warren Gatland (hy gee sy volle aandag aan die Leeus) is die Rooi Drake sonder blus. Hulle behoort Italië te klop, maar dan lê daar  swarigheid voor. Spelers om dop te hou: Leigh Halfpenny, Liam Williams, Alun Wyn Jones. Wenkans: 3/10.

Italië: Die houtlepel is weer hulle voorland, ondanks hul roemryke oorwinning oor die Bokke in November verlede jaar. Hul agterspelers kort vaart en visie, en hul voorspelers ploeter ook maar saam. Spelers om dop te hou: Carlo Canna, Braam  Steyn, Sergio Parisse. Wenkans: 0/10.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.