Sestien spanne hoop nog op Wêreldbekerplek

Sestien spanne vertrou nog daarop om ʼn plek in aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker in Japan te verwerf, en nie almal se hoop is op die speelveld gevestig nie.

Die Europese aanspraakstryd sleep – langer as ʼn maand ná die afhandeling van die wedstryde – in afwagting van ’n regskommissie se uitspraak steeds voort.

Die gesloer dui klaarblyklik daarop dat die kommissie met ʼn taai tameletjie sit.

Op grond van die punteleer het Roemenië die aanspraak gewen, en was Spanje derde.

Spanje het egter kapsie gemaak teen ʼn Roemeense skeidsregter se hantering van sy wedstryd teen België, wat hy verrassend verloor het; en is op sý beurt daarvan beskuldig dat hy bepaalde spelers onwettig in sy span ingesluit het.

Sodra Wêreldrugby (WR) ʼn beslissing hieroor vel, dring die Europese wenner regstreeks tot die WB-toernooi deur. Afhangende van die bevinding, kan Rusland by ʼn agterdeur inglip.

Wie ook al tweede in die Europese aanspraakstryd eindig, sal dan teen Portugal, die wenner van die Rugby Europa-trofee (die derde vlak ná die Sesnasiesreeks en die Rugby Europa-beker) uitspeel om te bepaal wie op ʼn tuis-en-weg-grondslag teen Samoa (Oseanië) om ʼn plek in Japan uitspeel.

Die verloorder van laasgenoemde uitspeelreeks sal saam met Kanada (Noord-Amerika) en twee deelnemers wat nog aangewys moet word, aan ʼn heruitdun deelneem, wat die laaste WB-deelnemer sal bepaal.

Luidens berigte sal die heruitdun, wat op rondomtaliegrondslag uitgespook word, op neutrale grond in Frankryk beslis word.

Die volgende gewestelike aanspraakstryd is in Asië aan die gang, waar Maleisië, Korea en Hongkong oor ʼn dubbele ronde in die reeks om die Asiatiese Rugbykampioenskap gewikkel is.

Die wenner sal teen die Cook-eilande (Oseanië) om ʼn plek in die heruitdun uitspeel.

Die Cook-eilande het sy aanspraak verwerf nadat Tahiti, wat hom vroeër uitgeskakel het, daaraan skuldig bevind is dat hy onwettige spelers ingespan het.

Afrika se gewestelike aanspraakstryd – die laaste wat moet volg – begin op 16 Junie wanneer Rugby Afrika se Goue Beker-reeks afskop.

Wie ook al van Kenia, Marokko, Namibië, Tunisië, Uganda of Zimbabwe die reeks wen, bespreek sy plek Japan toe. Die naaswenner sal die vierde deelnemer aan die heruitdun wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.