Sewe uit Suid-Afrika geel kaarte in Europa gewys

Minstens sewe spelers uit Suid-Afrika is die afgelope naweek met geel kaarte in die Europese rugbyreekse gestraf.

Die mees vooraanstaandes is die Springbokke Juan Smith (flank) en Willie le Roux (heelagter), en die gewese SA o.20- en nou Skotse toetsstut Allen Dell.

Smith se kaart het gekom in ʼn wedstryd in die Franse Top14-liga, wat sy span, Toulon, met 26-13 teen Bordeaux-Bègles gewen het.

Le Roux, wat vir Wasps speel, het syne in die Engelse Premierliga teen Harlequins op die lyf geloop.

Quins het die kragmeting met 32-13 gewen.

Dell se oortreding was in die Europese Pro12-reeks in die wedstryd tussen die Skotse superklub Edinburgh en die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons.

Die Skotte het met 24-20 gewen.

Die slot Jacques du Plessis, wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, het hom die geel kaart in die Franse Top14-wedstryd tussen Montpellier Hérault en La Rochelle op die hals gehaal.

La Rochelle het met 40-37 gewen.

Drie in Pro D2

Drie van die geles is in die Franse Pro D2-liga deur die skeidsregters uitgepluk.

Vir Eugene van Staden, stut van Biarritz en ʼn gewese Superrugbyspeler van die Sharks, het dit in sy span se sege van 41-8 oor Aurillac gekom.

Claude Dry, ʼn slot wat Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, het die tydelike trekpas teen Colomiers gekry. Sy span, Montauban, het met 34-25 gewen.

Vickus Liebenberg, ʼn slot van Dax, moes die paadjie kantlyn toe stap in sy span se oorwinning van 17-13 oor Mont de Marsan.

Liebenberg het Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.