Sewes: Druk op die jonges om diepte te bewys

Vir Neil Powell gaan dit die naweek in Las Vegas waarskynlik oor meer as om aan die Blitsbokke se voorsprong van agt punte in Wêreldrugby se sewesreeks te klou of daarop te verbeter.

Die Blitsbokke speel die naweek sonder ses staatmakers wat na hul Superfranchise’e is (Seabelo Senatla, Kwagga Smith, Tim Agaba, Sikhumbuzo Notshe) en die twee spelbreker-blitse Justin Geduld en Rosko Specman.

Wat Powell graag sal wil sien, is dat die jong plaasvervangers hand opsteek om te wys daar is diepte op die pad vorentoe in ʼn spel waar beserings volop is.

Vrydag (in Las Vegas, maar vroeg Saterdag in Suid-Afrika) begin slegs die vyfde van die tien toernooie in vanjaar se Wêreldreeks, en met die toernooie wat voorlê is gehalte-diepte van groot belang.

♦  Suid-Afrika is die naweek saam met Engeland, Wallis en Kanada in groep B ingedeel. Die Blitsbokke het die afgelope twee reekse, toe Engeland ook in hulle groep was, albei kere teen hulle gewen. Wallis en Kanada, albei moeilik op hulle beste, maar albei ook wisselvallig, behoort deur die Blitse reggesien word.

Maar hierdie is sewes, en enigiets is moontlik met die glipse wat in die spel voorkom.

♦  Met Las Vegas wat tien uur agter Suid-Afrika is, skop Suid-Afrika eers voordag Saterdagoggend (03:34) af met die eindstryd wat vroeg Maandagoggend gespeel word en die laaste groepwedstryd van die Blitsbokke, teen Engeland, wat eers Sondagoggend tien minute ná middernag sal afskop. (Sien speeltye hieronder.)

♦  Die kwarteindrondes vir die derde en vierde geplaaste spanne in elk van die vier groepe begin dan Sondag 01:48 en word gevolg deur dié tussen die twee voorste spanne in elk van die groepe wat in die bekerreeks speel.

Hierdie laaste vier beker-kwarteindwedstryde waarvoor die Blitsbokke hopelik sal kwalifiseer, word vanaf 03:26 Sondag gespeel.

Blitsbokke se groepwedstryde –

Saterdag

03:34 – vs Kanada

06:35 – vs Wallis

Sondag

0:10 – vs Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.