Sewes in Dubai: Blitsbokke kook, vrouespan verras byna

Die Blitsbokke het vroeg Saterdagoggend die reeks op ʼn wennoot afgeskop. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Dit was ʼn stroopsoet begin vir die Blitsbokke in die openingstoernooi van die nuwe sewesseisoen se Wêreldreeks in Dubai toe hulle Samoa met 22-14 geklop het.

Die Blitsbokke het vroeg Saterdagoggend die reeks, wat nou as die SVSN-reeks bekend staan, op ʼn wennoot afgeskop, terwyl die Blitsbokke se vrouespan byna verras het teen Nieu-Seeland, die huidige kampioen.

Die vrouespan is met 19-14 geklop nadat die All Blacks ʼn doodsnik-drie gedruk het om die Blitsbok-vroue te verslaan. Die Blitsbokke was rustyd nog met 14-5 voor.

In die mansafdeling was die Blitsbokke in Groep A gou agter nadat Faafoi Falaniko ʼn drie vir Samoa gedruk het, maar drie onbeantwoorde drieë deur Christie Grobbelaar, die vlugvoetige Rosko Specman en Shilton van Wyk het voor rustyd reeds die skaal in die Blitsbokke se guns laat swaai.

Samoa het die Bliksbokke se ondersteuners naels laat kou toe Taunuu Niulevaea sy span laat nader kruip het voordat Impi Visser die Blitsbokke se vierde drie gedruk het om die wedstryd te beklink.

Puntemakers: Suid-Afrika 22 (17): Drieë: Christie Grobbelaar, Rosko Specman, Shilton van Wyk, Impi Visser. Doelskop: Justin Geduld. Samoa 14 (7): Drieë: Faafoi Falaniko, Taunuu Niulevaea. Doelskoppe: Pelasio Samuelu Niuula (2).

Vroue: Nieu-Seeland 19 (5): Drieë: Mahina Paul, Jazmin Felix-Hotham, Sarah Hirini. Doelskoppe: Risaleaana Pouri-Lane (2). Suid-Afrika 14 (14): Drieë: Nadine Roos, Maria Tshiremba. Doelskoppe: Roos (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.