Sewes in Vancouver: Blitsbokke hou die deur oop

Siviwe Soyizwapi van Suid-Afrika tydens ʼn vorige wedstryd teen Wallis in Las Vegas, Nevada (2 Maart 2018) (Foto: David Becker/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Blitsbokke het warm en koud geblaas op die eerste van drie dae van Wêreldrugby se Kanada-sewestoernooi in Vancouver.

Nadat die Blitsbokke se eerste wedstryd teen Frankryk laat Vrydagaand met 19-19 gelykop geëindig het, het hulle vroeg Saterdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) die stang in hul tweede wedstryd teen Japan vasgebyt en met 40-12 gewen.

Dit beteken dat die Blitsbokke vyf ligapunte ná twee wedstryde het en een punt agter Argentinië is, wat met 31-12 teen Japan en 21-12 teen Frankryk gewen het.

Die Blitsbokke en Argentinië spook juis Saterdagaand (SA tyd om 23:26) sake uit om te bepaal wie bo-aan Groep B eindig om teen Brittanje, Fidji of Uruguay in die kwarteindronde te speel.

Die Blitsbokke was baie teleurstellend in die eerste helfte teen Frankryk en was met 0-19 agter. Hulle het swakkerig verdedig, het bottervingers gehad en hul dissipline by die afbreekpunte het hulle in die steek gelaat.

Boonop is Shilton van Wyk met ʼn geel kaart gestraf nadat hy die bal vorentoe geklap het met die Franse op die aanval.

In die tweede helfte het die Blitsbokke veggees getoon en met ʼn doodsnikdrie deur Sivive Soyiswapi, wat van die kantlyn af deur Ricardo Duarttee verdoel is, het die kragmeting gelykop geëindig.

Puntemakers: Suid-Afrika 19 (0): Drieë: Ricardo Duarttee, Siviwe Soyizwapi (2). Doelskoppe: Duarttee (2).

Frankryk 19 (19): Drieë: Theo Forner (2), Leraitre Paul. Doelskoppe: Stephen Parez Edo Martin (2).

* In die Blitsbokke se tweede wedstryd teen Japan het sake baie beter gegaan en was die Blitse rustyd met 26-0 voor.

Maar Japan is beslis nie een van die kragreuse nie en ʼn mens verwag dat ʼn voorste span soos die Blitsbokke groot oorwinnings teen hulle  sal behaal om so ook hul punteverskil ʼn hupstoot te gee.

Die Blitsbokke het ses drieë gedruk maar teen die einde ook twee deurgelaat.

Puntemakers: Suid-Afrika 40 (26): Drieë: Siviwe Soyizwapi (2), Christie Grobbelaar, Impi Visser, Ricardo Duarttee, Noegh Hayward. Doelskoppe: Duarttee (4), Gurswin Wehr.

Japan 12 (0): Drieë: Yoshihiro Noguchi, Kippei Taninaka. Doelskop: Taiga Ishida.

Uitslae tot dusver:
Brittanje 45, Uruguay 5
Fidji 31, Kenia 12
Suid-Afrika 19, Frankryk 19
Argentinië 31, Japan 12
Samoa 31, Spanje 19
Nieu-Seeland 52, Amerika 0
Ierland 35, Kanada 5
Australië 36, Chili 12
Brittanje 26, Kenia 12
Uruguay 17, Fidji 14
Suid-Afrika 40, Japan 12
Argentinië 21, Frankryk 12
VSA 14, Samoa 12

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.