Sewesreeks: Blitsbokke haal voet van pedaal af

Suid-Afrika se afrigter Neil Powell (Desember 2017) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Blitsbokke het Saterdagaand in Malaga, Spanje, hul ondersteuners vir 11 minute aan die raai gehou voordat hulle Kanada met 14-0 geklop het om tot die halfeindronde van Wêreldrugby se sewesreeks deur te dring.

Die Blitsbokke was ʼn bietjie lusteloos, hulle is ses keer  gestraf, het ʼn paar duikslae gemis en was gelukkig om rustyd met 0-0 te draai nadat die skeidsregter nie ʼn drie kort voor rustyd aan Kanada toegeken het nie.

Die afrigter, Neil Powell, het rustyd rustig met die spelers gepraat en dit het die gewenste uitwerking gehad met Ryan Oosthuizen en Justin Geduld wat drieë gedruk het.

Ondanks die effense onoortuigende oorwinning oor Kanada, wat fisiek was, maar ʼn paar spelbrekers gekort het, het die Blitsbokke nie hul gelyke in Wêreldrugby se huidige sewesreeks nie, veral omdat twee van die ander swaargewigte, Nieu-Seeland en Fidji, se deelname weens die Covid-19-pandemie ontspoor is.

Die Blitsbokke mik nou na hul vyfde titel in vanjaar se reeks.

Nadat die Blitsbokke Engeland vroeër Saterdag met 43-0 vermorsel nadat hulle Vrydag reeds met Skotland afgereken het, het ʼn persoonlike prestasie teen Kanada gewink, om op Fidji se 26 opeenvolgende oorwinnings te verbeter.

Die Blitsbokke het ná die sege oor Kanada nou reeds 27 opeenvolgende oorwinnings behaal, wat nog ver agter die wêreldbeste van 47 is wat Nieu-Seeland tussen 2007/’08 behaal het.

Die Blitsbokke sal in die halfeindronde teen Australië speel, wat sy kragmeting met Amerika met 26-7 gewen het.

Punte: Suid-Afrika 14 (0): Drieë: Ryan Oosthuizen, Justin Geduld. Doelskoppe: Branco du Preez. Dewald Human.

Kanada 0.

* Saterdag se uitslae voor die kwarteindrondes:  Kanada 26, Wallis 7; Kenia 26, Frankryk 15; Duitsland 29, Japan 0; Ierland 10, Australië 5; Suid-Afrika 43, Engeland 0; Spanje 38, Jamaika 7; VSA 24, Argentinië 17; Skotland 17, Kenia 12; Spanje 31, Japan 10; Duitsland 48, Jamaika 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.