Sewesreeks: Blitsbokke se bitter nederlaag

JC Pretorius (Foto: Springboks.rugby)

Dit was beslis ʼn bitter pil om te sluk, maar dalk was die nederlaag van 7-12 wat die Blitsbokke Saterdag in Singapoer in hul laaste groepronde-wedstryd teen Amerika in Wêreldrugby se sewestoernooi gely het, tog die regte medisyne vir die pad vorentoe.

Die Blitsbokke het ʼn ongekende 36 agtereenvolgende oorwinnings voor die nederlaag behaal en die Nieu-Seelanders se rekord van 47 agtereenvolgende seges tussen 2007/’08 moes in die agterkop gewees het en na alle waarskynlikheid hul spel beïnvloed het.

Nou kan die Blitsbokke net daarop konsentreer om ʼn ongekende vyfde toernooi in vanjaar se reeks te probeer wen.

Die Blitsbokke het die eerste keer effe tam voorgekom, gans te veel strafskoppe afgestaan en die bal een of twee keer aangeslaan.

Die Amerikaners, wat die spel stadig gemaak het en die Blitsbokke fisiek aangepak het, was rustyd met 7-0 voor ná ʼn drie deur David Still nadat Sako Makata ’n laaste duikslag verbrou het.

In die tweede helfte het die Blitsbokke meer besit verkry, maar daar was steeds ʼn haakplek in hul spel waaraan die ondersteuners nie gewoond was nie.

Toe die Amerikaanse veteraan Perry Baker met speeltyd verstreke die wendrie gedruk het, het die Blitsbokke se moed in hul skoene gesak … die droom om die rekord te laat spat, was daarmee heen.

Die Blitsbokke speel in die kwarteindronde teen Fidji, terwyl die Amerikaners teen Ierland te staan kom.

In die ander wedstryde in die kwarteindronde speel Australië teen Argentinië en Nieu-Seeland pak Samoa.

Punte:
VSA 12 (7): Drieë: David Still, Perry Baker. Doelskop: Lucas Lacamp.
Suid-Afrika 7 (0): Drie: Ryan Oosthuizen. Doelskop: Dewald Human 

Saterdag se uitslae: Frankryk 36, Japan 14; Ierland 21, Fidji 12; Skotland 26, Wallis 24; Nieu-Seeland 12, Argentinië 10; Engeland 19, Spanje 14; Australië 26, Samoa 17; VSA 12, Kenia 10; Suid-Afrika 31, Kanada 5; Fidji 26, Frankryk 19; Ierland 38, Japan 7; Nieu-Seeland 19, Skotland 7; Argentinië 24, Wallis 7; Samoa 31, Engeland 5; Australië 28, Spanje 12; VSA 33, Kanada 12; Suid-Afrika 26, Kenia 5; Fidji 61, Japan 5; Frankryk 12, Ierland 5; Nieu-Seeland 43, Wallis 5; Argentinië 29, Skotland 14; Samoa 26, Spanje 14; Australië 40, Engeland 0; Kenia 24, Kanada 7. Amerika 12, Suid-Afrika 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.