Sewesreeks: Blitsbokke stamp Kenia uit hul pad

(Foto: @Blitzboks/Twitter)

Die Blitsbokke het Saterdagoggend in Singapoer ʼn tweede klip uit hul pad gerol toe hulle Kenia met 26-5 in hul tweede groepwedstryd van Wêreldrugby se sewesreeks afgeransel het.

Die Blitsbokke was rustyd reeds met 19-0 voor en was meedoënloos op die aanval. ʼn Nuwe held het ook na vore getree toe Sakoyisa Makata drie drieë gedruk het. Hy het reeds drie jaar gelede sy buiging vir die Blitsbokke gemaak, maar sy spel het nou volwassenheid bereik en dit verbreed die spelersdiepte verder.

Dit was die Blitsbokke se 36ste opeenvolgende oorwinning in die reeks en hulle speel Satermiddag (13:33) teen Amerika om hul bepalings in Groep A af te handel.

Die Blitsbokke het vroeër hul aanslag met ʼn sege van 31-5 oor Kanada ingelui.

Daar heers groot belangstelling in dié toernooi omdat dit die eerste keer is dat Nieu-Seeland, Fidji en Samoa weer deelneem nadat hulle geplettervat is deur die Covid-19-pandemie.

Nieu-Seeland, wat 25 maande laas in die sewesreeks gespeel het, het twee oorwinnings behaal nadat hulle Argentinië met 12-10 en Skotland met 19-7 getroef het.

Fidji en Samoa het albei een keer verloor, maar hul oorwinnings onderskeidelik oor Frankryk (26-19) en Engeland (31-5) het getoon dat die reeks al hoe strawwer sal word.

Punte: Suid-Afrika 26 (19): Drieë: Sako Makata (3), Selvyn Davids. Doelskoppe: Ronald Brown (3).

Kenia 5 (0): Drie: Alvin Marube.

Ander uitslae: Frankryk 36, Japan 14; Ierland 21, Fidji 12; Skotland 26, Wallis 24; Nieu-Seeland 12, Argentinië 10; Engeland 19, Spanje 14; Australië 26, Samoa 17; VSA 12, Kenia 10; Suid-Afrika 31, Kanada 5; Fidji 26, Frankryk 19; Ierland 38, Japan 7; Nieu-Seeland 19, Skotland 7; Argentinië 24, Wallis 7; Samoa 31, Engeland 5; Australië 28, Spanje 12; VSA 33, Kanada 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.