Sewesreeks: Nóú sal Blitsbokke getoets word

Suid-Afrika se afrigter Neil Powell (Desember 2017) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Ná ʼn afwesigheid van twee jaar weens Covid-19 beperkings, is die kragreuse van sewesrugby, Nieu-Seeland en Fidji, met mening terug in die Wêreldreeks.

Dit was ook dié twee spanne wat vandag in die eindstryd gespeel het van die Singapoer-toernooi. Fidji het die manne in die swart truie deurmekaar gehardloop in die eerste helfte en die titel 28-17 ingepalm.

Die ander groot nuus van die toernooi was die Blitsbokke se uitstekende agtereenvolgende segetog wat skielik tot ʼn einde gekom het. In die groepfase het die Suid-Afrikaners 7-12 teen die VSA verloor. Daarna het hulle in die kwarteind 14-19 teen die kampioene Fidji gestruikel en toe in die halfeindstryd vir die vyfde plek, het hulle ook 15-22 teen Argentinië verloor. Die segetog het verander in drie agtereenvolgende nederlae vir Neil Powell se span.

Die Blitsbokke is steeds die voorlopers op die punteleer met 98 punte. Australië is saam met Argentinië in die tweede plek met 83 punte. Australië het in die derde plek geëindig in Singapoer nadat hulle Ierland 21-19 in die bronsmedalje-wedstryd geklop het.

Die Iere het tot in die doodsnikke van die halfeindstryd teen Nieu-Seeland voorgeloop voordat die All Blacks die wendrie gaan druk het om 22-19 baas te wees.

Vir die Blitsbokke lê daar baie werk voor in aanloop tot volgende naweek se toernooi in Vancouver, Kanada. Hulle het basiese foute gemaak en swak dissipline het hulle kanse in die wiele gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
PP

Bokke, julle vertoning sal drasties moet verbeter as julle teen NZ en Fidji wil kragte meet.
Duikslae gemis, swak handtering en besluitneming het julle gesink.
Komaan, julle kan beter en sterkte in volgende reeks.

Johan

Te veel op onoorwonne rekord gegokus