Die Blitsbokke se droom om weer dié seisoen as Wêreldrugby se seweskampioen gekroon te word, is Saterdag in Toulouse, Frankryk, verder geknou toe hulle die eerste keer sedert 2013 nie vir die kwarteindronde kon kwalifiseer nie.
Die Blitsbokke, wat Vrydag die eerste keer ooit deur Ierland geklop (21 – 12) is, is met 19 – 7 deur Samoa uitgestof, wat beteken dat die Iere en Samoa tot die uitspeelrondes deurdring.
Daar was weer, net soos in die afgelope twee toernooie in Singapoer en Vancouver, ʼn insinking in die Blitsbokke se spel.
Hulle kon nie die Samoane se in- en afskoppe bemeester nie, hulle het ʼn paar duikslae gemis en met skrapse besit kon hulle nie afrond nie.
Die Blitsbokke (111 punte) is nog voor op die puntelys, maar die kans is baie goed dat hulle deur Argentinië (105) of Australië (100) verby gesteek kan word met nog net twee toernooie in Londen en Las Vegas oor.
Die Blitsbokke het wel die eerste vier toernooie in Dubai (twee), Malaga en Sevilla (albei Spanje) gewen, maar die glans was effe verdof omdat Nieu-Seeland, Fidji en Samoa weens Covid-19 nie kon meeding nie.
Punte: Samoa 19 (19): Drieë: Vaa Apelu Maliko (2), Steve Rimoni. Doelskoppe: Melani Matavao (2).
Suid-Afrika 7 (0): Drie: Ronald Brown. Doelskop: Brown.
* Ander uitslae (manstoernooi): Ierland 21, Suid-Afrika 12; Samoa 42, Spanje 12; Nieu-Seeland 19, Skotland 0; VSA 24, Australië 19; Engeland 24, Kanada 5; Argentinië 43, Japan 5; Frankryk 56, Wallis 5; Fidji 29, Kenia 5; Suid-Afrika 27, Spanje 7; Samoa 27, Ierland 14; Nieu-Seeland 19, VSA 17; Australië 28, Skotland 7; Engeland 21, Japan 10; Kanada 19, Argentinië 12; Frankryk 38, Kenia 14; Fidji 19, Wallis 0; Ierland 26, Spanje 21.
* Met die vrouespan het dit nog swakker gegaan nadat hulle met 59 – 0 deur Fidji afgeransel is. Dit was Fidji se grootste oorwinning nog in die sewesreeks en die 140 punte wat die Blitsbokke se vrouespan in drie wedstryde afgestaan het sonder om enige punte aan te teken, moet die onweerswolke laat saampak.