Sewesseisoen afgelas; wenner aangewys

Argieffoto.

Wêreldrugby het die kansellering van die oorblywende HSBC-sewestoernooie weens die Covid-19-pandemie aangekondig; ’n besluit wat beteken dat Nieu-Seeland as die wenner van die reeks aangewys is.

Ná die ses toernooie wat wel suksesvol vroeër vanjaar afgehandel is, het die Kiwi’s 115 ligapunte gehad, gevolg deur die Blitsbokke met 104 punte.

Die Blitsbokke het die toernooie in Dubai en Los Angeles gewen, terwyl hulle vir die bekereindstryde in Kaapstad en Sydney gekwalifiseer het. Daarteenoor het die Nieu-Seelanders drie van die toernooie gewen en twee verdere podiumplekke losgespeel.

“Dit wys net hul ongelooflike bestendigheid. Ná daardie vertonings verdien hulle ongetwyfeld die titel,” het Neil Powell, Blitsbok-afrigter, gesê.

Hoewel die kansellering van die toernooie in Londen, Parys, Hongkong en Singapoer teleurstellend is, verstaan Powell ook waarom die besluite geneem is.

“Daar was goeie kommunikasie tussen Wêreldrugby en die onderskeie nasionale afrigters sedert die begin van die pandemie. Ons was dus almal bewus dat dit moeilik sal wees om die seisoen af te handel en ons weet dat die besluit in almal se guns geneem is,” het hy aan www.springboks.rugby gesê.

Die Suid-Afrikaners het deur die loop van die seisoen gewys van watter stoffasie hulle gemaak is en het gereeld ’n wedstryd in die doodsnikke gewen.

“Ons het soms goeie rugby gespeel en ek dink die seisoen was ’n sukses. Baie van die reeks se wedstrydplanne en -voorbereiding was met die Olimpiese Spele in die agterkop; ek dink ons was goed op koers gewees en ek wil graag die spelers en bestuur vir hul harde werk bedank.”

  • Meeste drieë vir die Blitsbokke in die 2019-’20-seisoen:

Angelo Davids (16), JC Pretorius (13) en Muller du Plessis (11).

  • Meeste punte vir die Blitsbokke in die 2019-’20-seisoen:

Selvyn Davids (109), Justin Geduld (83) en Angelo Davids (80).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Dan kan die manne mos die wenner van die Super 15 ook mos aanwys. As ek dit reg het , is dit nie die Haaie nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.