Sewessukses het Lesotho vuur en vlam vir rugby

Zimbabwe – beste in Maseru. (Foto: Verskaf)

Die afgelope internasionale Maseru-sewestoernooi het Lesotho nou só vuur en vlam vir rugby dat die adjunkpremier op pad Pretoria toe is om die toekomstige ontwikkeling van die spel in die bergkoninkryk te bespreek.

Zimbabwe het die eerste toernooi gewen deur Zambië oortuigend met 40-7 in die Bekereindstryd te klop.

In ʼn bedankingsbrief aan die toernooipromotor, Willem Strauss, sê die adjunkpremier, Monyane Moleleki, die sewesbyeenkoms het nuwe asem in Lesotho se sport geblaas, en die toernooi kan aanstaande jaar duisende ondersteuners te wagte wees.

“Rugby het uiteindelik [Lesotho] binnegedring”, skryf hy, alles te danke aan Strauss se steun, en die adjunkpremier wil hom (Strauss) in Pretoria gaan spreek “om dié pragtige spel in [Lesotho] te ontwikkel”.

Strauss sê die Maseru-toernooi was vir Zimbabwe en die ander deelnemende Afrikaspanne broodnodige voorbereiding vir die Afrika-kampioenskap wat 6 en 7 Oktober in Kampala plaasvind.

Die twee top-Afrikaspanne in Kampala sal in aanmerking kom om saam met die Blitsbokke en Kenia aan die Wêreldbeker-sewestoernooi aanstaande jaar van 20 tot 22 Julie in San Francisco, Amerika, deel te neem.

Strauss sê die spanne van Lesotho en die Lesotho-uitnodigingspan was die verrassingspakkette.

Laasgenoemde het die bronsmedalje verwerf deur die land se nasionale span met 19-5 te klop, en die SA All Stars het in die trofee-eindstryd met 29-15 met Namibië se Welwitschias afgereken.

Mauritius was sewende.

Hy sê die toernooi sal weer aanstaande jaar plaasvind.

“Daar heers groot belangstelling van regeringskant af om die toernooi verder uit te brei, en dit te gebruik as ʼn platform om ʼn sterk rugbykultuur in Lesotho te vestig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.