Seweswêreldbeker is hier!

Die Seweswêreldbeker het vandag amptelik in Kaapstad begin. Foto: Hansie Linde.

Die Seweswêreldbeker is hier en die Blitsbokke sal amptelik hul veldtog vanaand om 19:03 teen Chili in Kaapstad begin.

Die Suid-Amerikaners het vroeër vir Duitsland met 15 – 12 in bykomende tyd geklop.

Dit sal die ervare Neil Powell se laaste toernooi aan die stuur van die Blitsbokke wees. Die talentvolle afrigter aanvaar ná die Wêreldbeker die pos as direkteur van rugby by die Sharks in Durban waar hy sy kennis en ervaring met die 15-manspel gaan deel.

En volgens Powell kan die trane en afskeidsbriewe eers net ʼn bietjie wag – die Blitsbokke is hier om ʼn internasionale uitkloptoernooi te wen.

“Dit is so maklik om aandag te verloor en juis daarom kan die groetsessies tot ná die wedstryde wag. Dit is my mikpunt om nie veel emosie te wys nie en tot dusver gaan dit goed; ek was aansienlik meer emosioneel by die Statebondspele.  Tog is almal baie opgewonde oor die naweek se verrigtinge. Dit is ʼn unieke geleentheid om in ʼn Wêreldbeker-toernooi in jou eie agterplaas te speel,” het Powell gesê.

Die Suid-Afrikaners het in die Statebond-eindstryd gewys dat hulle oor genoeg skietgoed beskik om ʼn groot toernooi te wen toe hulle vir Fidji met 31 – 7 in Birmingham ore aangesit het.

“Die span het baie goeie rugby in Engeland gespeel en dit sal lekker wees as ons weer soortgelyke spel in Kaapstad kan opdis. Ons is baie bevoorreg om die Wêreldbeker in die Moederstad aan te bied met al ons familie, vriende en ondersteuners om ons aan te moedig,” het een van die spelers, Muller du Plessis, gesê.

Finale Blitsbok-groep:

Cecil Afrika, Ronald Brown, Angelo Davids, Selvyn Davids, Muller du Plessis, Christie Grobbelaar, Sako Makata, Mfundo Ndhlovu, JC Pretorius, Shakes Soyizwapi (kaptein), Impi Visser en Shaun Williams.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moedeloos ·

By ons ook 18h00 – 20h00 en dit nogal in die Swartland nie ver van die stadion af nie

Chris ·

Nou net na die Hot Desk op Supersport 211 gekyk So hartseer dat kommentators daar God se naam eidelik gebruik As hul gesè het O my Allah sou die hel losgewees het Kom mense ons staan op vir hierdie ydelike gebruik van Sy naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.