Sexton gereed vir Grand Slam-glorie

Ierland se Johnny Sexton droom van Grand Slam-glorie. Foto: John Cowpland/DPPI via AFP.

As Ierland hierdie naweek vir Engeland in Dublin klop, sal dié span die Sesnasiesreeks onoorwonne afsluit om sodoende Johnny Sexton se Grand Slam-droom te bewaarheid.

Volgens die 37-jarige losskakel is dit iets waaroor hy al van sy kinderdae droom. Hy het egter gewaarsku dat die Rose nie kanonvoer sal wees nie – selfs al het hulle met 53–10 teen Frankryk op Twickenham verloor.

“Ons moet doodeenvoudig net weer op ons beste wees. Die Engelse spelers sal wil wys wat dit vir hulle beteken om vir hul land te speel. Hulle is ʼn baie beter span as wat die Twickenham-telbord ʼn mens wil laat glo,” het Sexton gesê.

Die Ierse kaptein kan in die Engeland-wedstryd die voorste puntemaker in Sesnasies-geskiedenis word. Hy is tans gelyk met Ronan O’Gara; al twee spelers het 557 punte in die toernooi aangeteken.

“Ek dink Ronan sal my nou geld aanbied om uit te tree! Tog is dit [die punterekord] nie baie belangrik nie; ek sal veel eerder wil hê Ierland moet wedstryde wen.”

Die Ierse vlae het die afgelope naweek op Murrayfield gewapper toe hulle ʼn begeesterde Skotse span met 22–7 geklop het.

Mack Hansen, wat as die speler van die wedstryd aangewys is, het ná die toets gesê dat Ierland eintlik daarvan hou om met sy rug teen die muur rugby te speel; dit gee die spelers ʼn geleentheid om terug te baklei.

Die Springbokke speel op 23 September teen Ierland op die Stade de France in ʼn baie belangrike Wêreldbeker-groepwedstryd.

Stefan Terblanche, die voormalige Bok-agterspeler, het vroeër vir Maroela Media gesê dat Sexton en sy span beslis goed genoeg is om die silwerware omhoog te hou en hy het na hul beroemde reeksoorwinning teen die All Blacks in Nieu-Seeland verwys om sy punt te staaf.

“Hulle weet hoe om rugby te speel, hoe om te wen én hulle is goed afgerig. Daarbenewens dis hulle gereeld kreatiewe spel op en die skakelpaar se besluitneming is baie goed,” het Terblanche gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.