Sexton kan blaaskans teen Italianers kry

Ierland se Jonny Sexton (Maart 2022) (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Ierland droom om vanjaar se Sesnasies-reeks as die enigste onoorwonne span af te sluit en met Johnny Sexton in hul geledere kan hul doelwit beslis ʼn werklikheid word.

Die losskakel is die spilpunt waarom die Iere se sukses draai, maar op 37-jarige ouderdom word beserings ʼn al meer gereelde verskynsel.

Sexton het onder meer sy wangbeen in die aanloop tot die toernooi beseer, terwyl hy ʼn liesbesering tydens Ierland se spogvertoning teen Frankryk opgedoen het.

Nou meen Eddie O’Sullivan – oudafrigter van die Ierse nasionale span – dat die komende wedstryd teen Italë ʼn gulde geleentheid is om die immergroen losskakel ʼn ruskans te gee. Veral met die oog op die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

“Kom ons wees eerlik met mekaar: Ierland is tans die voorste span ter wêreld, terwyl Italië 12de op die punteleer is. Ons behoort die Italianers in Rome te klop,” het O’Sullivan in ʼn onderhoud met BBC gesê.

Munster se Joey Carberry is intussen ook nadergetrek om moontlik die veteraanspeler se skoene vol te staan.

“My beste raaiskoot is dat Ierland nou vir Sexton ʼn blaaskans sal gee sodat hy gereed vir Skotland in Edinburgh sal wees én die moontlike Grand Slam-wedstryd teen Engeland.”

Stefan Terblanche, die voormalige Springbok-vleuel, het juis verlede week vir Maroela Media gesê dat Sexton die hoofrol vir Ierland in die komende Wêreldbeker-skouspel in Frankryk sal vertolk.

“Ierland se spelpeil aan die vooraand van die toernooi is die beste wat dit nog was en as Sexton hou, staan hulle ʼn definitiewe kans om met die louere weg te stap,” het Terblanché gesê.

  • Hierdie naweek se Sesnasies-aksie:

Ierland teen Italië: Saterdag om 16:15

Wallis teen Engeland: Saterdag om 18:45

Frankryk teen Skotland: Sondag om 17:00

  • Punteleer:
  1. Ierland: 10 punte
  2. Skotland: 10 punte
  3. Engeland: 6 punte
  4. Frankryk: 5 punte
  5. Italië: 1 punt
  6. Wallis: geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.