Shakes soek ʼn beter vertoning in LA

Die Blitsbokke speel hierdie naweek in Los Angeles. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke het nie goeie herinneringe aan hul vorige besoek aan Los Angeles nie. Die Suid-Afrikaners het toe nie net teen die VSA en Nieu-Seeland vasgeval nie, maar ook in die titelwedloop teruggesak en moes magteloos toekyk hoe Australië hulle verbysteek.

Nou hoop Shakes Soyizwapi op ʼn beter vertoning wanneer sy span Saterdag in hul eerste groepwedstryd van die jongste Los Angeles-toernooi teen Kanada te staan kom.

“Ons vaar normaalweg baie goed in Noord-Amerika. Ons het al vantevore in Los Angeles en Las Vegas gewen, terwyl ons ook al in Kanada met die louere weggestap het. Verlede jaar het ons egter swak teen die VSA gespeel en daarna het dinge net vir ons skeefgeloop,” het die Blitsbok-kaptein gesê.

Suid-Afrika is tans tweede op die HSBC-punteleer nadat hulle die silwermedalje in die Sydney-toernooi ingeoes het.

“Die nuwe ouens in die span het tot dusver goed gespeel. Ricardo [Duarttee] is ʼn indrukwekkende speler, terwyl Jaidon [Baron] in Hamilton en Sydney gewys het wat in hom steek.”

Hy is ook dankbaar om vir Ronald Brown en Mfundo Ndhlovu terug te verwelkom – hulle sal die Blitsbokke ongetwyfeld ʼn ervaringhupstoot gee.

“Ek is opgewonde oor Travis Ismaiel se insluiting. Hy is ʼn baie goeie speler en oorgehaal om ʼn verskil op die veld te maak.”

Die VSA is ongetwyfeld ʼn spesiale bestemming vir die 30-jarige Ismaiel – hy het immers in 2018 sy Springbok-buiging teen Wallis in Washington DC gemaak.

Hoewel ses van die spelers in die groep nog nie eens tien toernooie vir die Blitsbokke gespeel het nie, skeel die gebrek aan ervaring Soyizwapi nie veel nie.

“Die harde voorbereidingswerk wat ons in Stellenbosch gedoen het, is meer as voldoende en dien as teenvoeter vir die min ervaring.”

Blitsbokke: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, James Murphy, Christie Grobbelaar, Masande Mtshali, Shakes Soyizwapi (kaptein), Travis Ismaiel, Jaden Baron, Ricardo Duarttee, Ronald Brown, Shilton van Wyk en Mfundo Ndhlovu.

Bepalings:

Saterdag om 21:49: Blitsbokke teen Kanada

Sondag om 01:02: Blitsbokke teen Uruguay

Sondag om 05:03: Blitsbokke teen Ierland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

As ek kyk na die samestelling van die span dan wonder ek nie meer hoekom hulle so vrot speel nie.As ‘n eens blitzbok ondersteuners het ek nagte deurgesit en hulle ondersteun maar nou maak hulle powere vertonings my so vaak ek slaap eerder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.