Sharks behou sterk kern teen Bulls

sharks-logoDie Sharks het `n sterk kern van verlede jaar behou vir sy littelosmaker Vrydag teen die Bulls met die oog op vanjaar se Superrugbyreeks.

Agt lede van die 23-tal wat in verlede jaar se laaste wedstryd teen die Hurricanes gespeel het, is in die opdrafspan vir die wedstryd teen wat `n Bulls XV is op Northwood Crusaders se veld in Durban-Noord ingesluit.

Dis veral voorlangs sigbaar waar Tenderai Mtawarira (loskopstut), Franco Marais (haker), Etienne Oosthuizen (slot), Philip van der Walt en Jean-Luc du Preez (flanke) almal weer op hul pos is. Die Springbokke Coenie Oosthuizen (stut) en Chiliboy Ralepelle (haker) is op die koop toe op die bank.

Agterlangs is Curwin Bosch (heelagter), Lwazi Mvovo (linkervleuel) en André Esterhuizen (senter) weer ingesluit.

Wat die “nuwelinge” in die agterlyn betref, behoort die Bok-skakelpaar Pat Lambie (kaptein) en Cobus Reinach die span wat 0-41 in Wellington, Nieu-Seeland, gelooi is aansienlik te versterk.

Robert du Preez, die Sharks se hoofafrigter, het in `n verklaring wat in Durban uitgereik is, gesê die wedstryd is belangrik vir sy span.

“Dis die laaste geleentheid om aan ons planne te skaaf. Ons moet ons struktuur vestig en ons uitvoering moet korrek wees.”

Die Sharks sal swart roubande dra ter herinnering aan die Springboklegende Joost van der Westhuizen wat die afgelope week oorlede is.

Die wedstryd begin 17:00.

Die groep –

15. Curwin Bosch, 14. Kobus van Wyk, 13. Lukhanyo Am, 12. André Esterhuizen, 11. Lwazi Mvovo, 10. Patrick Lambie (kaptein), 9. Cobus Reinach, 8. Tera Mtembu, 7. Jean-Luc du Preez, 6. Philip van der Walt, 5. Ruan Botha, 4. Etienne
Oosthuizen, 3. Lourens Adriaanse, 2. Franco Marais, 1. Tendai Mtawarira. Bank: 16. John-Hubert Meyer, 17. Chiliboy Ralepelle, 18. Coenie Oosthuizen, 19. Wian Vosloo, 20. Jean Droste, 21. Jacques Vermeulen, 22. Jean Deysel, 23. Francois Kleinhans, 24. Rowan Gouws, 25. Benhard Janse van Rensburg, 26. Sibusiso Nkosi, 27. Jeremy Ward, 28. Johan Deysel, 29. S’bura Sithole, 30. Clement Poitrenaud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend j ·

ek is onder die indruk dat die bulle teen die chiefs speel hoe nou

Wim van der Berg ·

Dis `n Bulls vyftiental wat vir die Sharkswedstryd gekies is, nie die Supergroep (30 spelers) wat in Brisbane is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.