Sharks beter in die nat weer, Bulle sukkel

Curwin Bosch, speler van die wedstryd (Foto Youtube)

Die bal was nat, albei spanne wou hardloop en die foute was te veel. Die gevolg was ʼn interessante maar nie baie goeie wedstryd Saterdag op Kingspark in Durban nie.

Die Sharks was beter en het verdien om te wen. Die telling was 18-5.

Met die oorwinning het die Sharks verseker dat hulle ʼn tuis-halfeind sal kry terwyl die Blou Bulle nou van ander spanne afhanklik is om die halfeind te haal.

So graag as wat John Mitchell sy span sou wou sien hardloop met die nuwe patroon wat hulle aan ’t vestig is, so moeilik was die omstandighede daarvoor.

Die Bulle se spelbreker Warrick Gelant het kwalik die bal in sy hande gehad en beslis nie van gebroke spel waar hy so gevaarlik is nie; en ook die diep skoppe het oor die gladde oppervlak geskiet en hanteerwerk agterlangs bemoeilik.

Die tuisspan het die swak lynstaanwerk van die Blou Bulle uitgebuit en heelwat balle daar omgekeer en andersins besit vir die Bulle baie moeilik gemaak.

Die Sharks was, veral in die eerste helfte in die skrums, veel beter daaraan toe. En by die afbreekpunte het die Bulle te dikwels hulle besit verloor omdat die Sharks met mening ingeklim het.

Met die bal en die veld wat uit die staanspoor nat was en toenemend so geword het, het die ervare Michael Claassens die spel foutloos gedikteer. Curwin Bosch was weer baie goed met sy opsies en met die besit wat die Sharks gewen en die Bulle verbrou het, kon daar net een wenner wees.

Handré Pollard het in die tweede helfte opgekom, ʼn paar mooierige dinge gedoen nadat hy ʼn afskop nie tien meter laat trek het nie, maar kon nie veel uitrig agter ʼn pak wat min en swak besit gekry het nie.

Puntemakers –

Sharks (12) 18: Drieë: S’busiso Nkosi, Keegan Daniel. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoel: Bosch: Skepdoel: Bosch
Blou Bulle (0) 5:  Drie: Aston Fortuin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Swak wedstryd gewees, kyk al die foute by die bulle, hoop Mitchell jaag van hul weg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.