Sharks blaas warm en koud teen Glasgow

(Foto: The Sharks/X)

Die kloof tussen die Sharks se beste span en hul naasbestes, is Vrydagaand op Scotstoun in Glasgow verder oopgeruk in die kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Glasgow Warriors.

Die tuisspan het met 21-10 gewen nadat hy rustyd met 21-5 voor was.

Die Warriors (53 punte) het met dié sege tot tweede op die puntelys agter Leinster (54) opgeskuif en hulle is nou agt punte voor die Bulls (45) wat Saterdagmiddag op Loftus Versfeld teen Munster speel.

Die Sharks se fokus was tweërlei van aard. Hulle wou voortbou op die wenmomentum van drie opeenvolgende oorwinnings wat hulle tuis behaal het. Die Sharks, wat komende naweek teen die Walliese Ospreys in die VRK-reeks speel, se hooffokus is oor twee weke in Londen in die halfeindstryd van die Europese Uitdaagbekerreeks teen Clermont (Frankryk).

As hulle Clermont kan klop, is die pad eindstryd toe uitgemessel en wink ʼn plek in aanstaande seisoen se glansryke Europese Kampioenebekerreeks.

Dit is om dié rede dat die Sharks se afrigter, John Plumtree, die meeste van sy keur-Springbokke soos Ox Nche, Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth (voorlangs) en Jaden Hendrikse, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi en Aphelele Fassi en die vurige sewes-Bok Werner Kok agterlangs ʼn ruskans gegee het.

Hulle is in watte toegedraai, want hulle moet uitgerus wees wanneer die Sharks teen Clermont speel.

Maar Plumtree het seker ook gehoop dat die instaanspelers, soos Boeta Chamberlain, Aphiwe Dyanti, Francois Venter, Curwin Bosch en Grant Williams agterlangs hul selfvertroue sal herwin ná die Sharks se teleurstellende opmars in die VRK-reeks.

Ongelukkig het die meeste van die spelers nie daarin geslaag nie. Hulle was oorgretig, het bottervingers gehad en het straks te hard probeer om die juk van middelmatigheid af te skud.

Bygesê, die Warriors is ʼn goed afgerigte span, vol Skotse internasionale spelers en is steeds dié seisoen onoorwonne op Scotstoun.

Voorlangs het die Sharks se slotte, Corné Rahl en Gerbrandt Grobler, soms die vuur aangesteek, maar daar was te min plofkrag om die Warriors te ontspoor.

Daar was in die tweede helfte wel ʼn opflikkering toe Siya Masuku, Vincent Tshituka en Vincent Koch opgestuur is, maar die slag was reeds geslaan.

Wat die Sharks wel reggekry het, is om die Warriors van ʼn bonuspunt-drie te weerhou. Dit was danksy hul opskietverdediging, wat die Warriors agter die voordeellyn gestuit het en in foute gedwing het.

Dit gaan interessant wees om te sien watter span die Sharks teen die Ospreys gaan inspan. Ek verwag dat dit hul beste span sal wees om met groot selfvertroue die week daarna teen Clermont te speel.

Puntemakers: Glasgow Warriors 21 (21): Drieë: George Horne, Max Williamson, Kyle Steyn Doelskoppe: Horne (3)

Sharks: 10 (5): Drieë: Dan Jooste, Ntuthuko Mchunu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.