Sharks-blitzkrieg skok Highlanders

Curwin Bosch was vandag in die kol met vier doelskoppe en drie strafskoppe. Foto: ANA.

Dit is nie aldag dat ’n Suid-Afrikaanse span in Nieu-Seeland wen nie; en as hulle nou op die dag sou wen, is dit normaalweg eerder met genade as danksy ’n wegholoorwinning.

Maar die Sharks het vanoggend in Dunedin met ’n vertoning uit die boonste rakke vorendag gekom toe hulle die Highlanders op hul tuisveld met 42–20 gelooi het. Dit is die Durbaniete se tweede agtereenvolgende oorwinning in die reeks nadat hulle verlede naweek met die Bulls afgereken het.

Lukhanyo Am se span het met ’n blitzkrieg in die eerste helfte vorendag gekom wat selfs militêre kenners sou laat regop sit het. Hulle het die Highlanders se lynstane ontwrig en hulle gereeld hard geslaan waar dit die seerste maak; en op die rugbyveld is dit die telbord.

James Venter en Makazole Mapimpi het hakskene vir die Highlanders-verdediging gewys, terwyl Curwin Bosch die bal met reëlmaat tussendeur die pale gejaag het.

Teen rustyd het die besoekers reeds ’n voorsprong van 27–3 geniet.

In die tweede helfte het die tuisspan hul huis in orde begin kry en hulle is met drie drieë beloon. Maar die Sharks se Aphelele Fassi het gewys dat hy ’n Springbok in wording is.

Dié lenige heelagter het twee keer in dié helfte sy ore platgetrek om die Highlanders-verdediging na lug te laat gryp, terwyl hy ’n paar keer die bal baie goed hanteer het.

Ná verlede jaar se geploeter het die Sharks gewys dat hulle vanjaar ook oor die wilskrag beskik om goed te doen. Hoewel die Superreeks beslis nie in Februarie gewen word nie, het hulle vandag uitstekend weg van die huis gewen. En dit nogal in Nieu-Seeland.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: James Venter, Makazole Mapimpi (2), Aphelele Fassi (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafskoppe: Bosch (3).

Highlanders: Drieë: Dillon Hunt, Jona Nareki en Michael Collins. Doelskop: Mitch Hunt. Strafskop: M. Hunt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Oordentlike afrigter wat nie sy swak seuntjies in die plek kies van gehalte spelers nie.
So maklik soos dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.