Sharks breek Griekwas se harte

(Foto: Griquas Rugby/Twitter)

Hulle sê weerlig slaan nie sommer twee keer op dieselfde plek nie.

Maar as dit van die Sharks en hul losskakel, Curwin Bosch, afhang, is dit nie net blote praatjies nie.

Nadat Bosch verlede Vrydagaand in Durban die Cheetahs met ʼn langafstand-strafdoel gekelder het, het hy dit Vrydagaand in Kimberley weer teen Griekwas in die Superrugby Unlocked-reeks reggekry.

Die Sharks het ʼn oorwinning van 34-33 uit die kake van ʼn nederlaag geruk toe Bosch weer ʼn lang strafdoel oorgeklits het.

Weer het hy die kol getref, weer het sy spanmaats hom omhels en weer het hy die rooi gesigte wat daar in Durban sou geheers het, darem ʼn bietjie kleur gegee.

Die onbesonge en segelose Griekwas het nie verdien om te verloor nie, want hulle het met soveel passie, geesdrif en ondernemingsgees gespeel dat die skaal eintlik in hul guns moes geswaai het.

Met ʼn briljante losskakel Tinus de Beer (daar word gesê hy word deur Naas Botha afgerig) het die tuisspan die Sharks se tande getrek.

De Beer was in die kol met sewe uit sewe pogings en sy lang kantlynskoppe het baie aan dié van Botha op sy beste herinner.

Griekwas het goed geskrum en só ʼn paar strafskoppe afgedwing. Hulle het baie beter as in die res van die reeks verdedig en die lynstane was ook klopdisselboom.

Maar hul brouwerk ná afskoppe, en ook ná ʼn paar hoë skoppe, het hulle duur te staan gekom.

Die Sharks wou met ʼn bonuspunt wen om druk op die Bulls te plaas, maar het byna daarvan vergeet om eers die wedstryd te wen.

Hulle was maar traag op die verdediging, hul voorspelers kon nie oorheers nie en die verlies van beseerde spelers soos Apheleli Fassi, Lukhanyo Am, Louis Schreuder (hy is oorsee), Thomas du Toit, Jacques Vermeulen (ook oorsee) en Sikhumbuzo Notshe byt hulle aan die hakskeen.

Hulle maak staat op Bosch se skopskoen om wedstryde te wen, maar iewers gaan hul geluk opdroog.

Puntemakers:

Haaie 34 (7)

Drieë: Sanele Nohamba, Manie Libbok, Jeremy Ward, Dylan Richardson

Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafdoele: Bosch (2)

Griekwas 33 (9)

Drieë: Ederies Arendse, Eduan Keyter, Gideon van der Merwe. Doelskoppe: Tinus de Beer (3)

Strafdoele: De Beer (4)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton ·

Moes die Griekwas se strafskop nie die laaste aksie in die wedstryd gewees het nie. Afskop na 80 minute verstreke was?

Jakes ·

Die Sharks het nie verdien om te wen nie. Van soveel getjommel in n wedstryd deur die Natallers het ek lanklaas gesien. Hule het duidelik n gebrek aan visie en n wedstrydplan. Die wedsryd teen die Cheetahs 2 weke gelede het dit beaam. N haker wat mik wanneer hy by n lynstaan ingooi sal n mens dalk kry in die laerskool maar nie op superrugby vlak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.